Jonker-broers bereik nog hoër hoogtes

Belinda Bantham -- Thu, 03/02/2017 - 08:39

Jonker-broers bereik nog hoër hoogtes

In die geskiedenis van lugvaart het verskeie broers oor die jare heen groot hoogtes bereik. Dink maar aan die Wright-broers, die Bell-broers en die Taylor-broers. Die Jonker-broers van Potchefstroom staan egter nie terug nie en het die afgelope 10 jaar met hul onderneming, Jonker Sailplanes, groot opslae in die wêreldmark van sweeftuie gemaak.

Hul revolusionêre JS1-model het oor die afgelope dekade verskeie internasionale toekennings ingepalm vanweë dié sweeftuig se tegnologie en effektiwiteit. Jonker Sailplanes het pas weer ‘n reuse aankondiging gemaak. Die JS1 se kleinboetie, die JS3, is pas gebore en bekendgestel wat oor nóg beter tegnologie soos aërodinamika, beheerstelsels, instrumentpaneel en ‘n nuwe stel vlerke wat ses meter korter as sy ouboet s’n is beskik.


Jonker Sailplanes se innoverende nuwe sweeftuig, die JS3, is nie net lig nie maar kan ook in gunstige omstandighede topspoed van 290 km/h bereik.

Onder wêreldwye sweeftuiggeesdriftiges is Jonker Sailplanes geen onbekende naam nie. Hulle het die afgelope paar jaar die kompeterende mark op sy kop gedraai nadat die JS1 keer-op-keer met internasionale toekennings weggestap het. Met meer as een honderd JS1’s reeds wêreldwyd verkoop, word prof Attie Jonker, en sy broer Uys en hul span as wêreldleiers in dié bedryf bestempel.

Vlieg is 'n wonderlike ervaring

Attie, wat ook ‘n senior dosent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus is, het pas die eerste toetsvlug in die JS3 onderneem. “Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Dié nuwe sweeftuig het ons stoutste verwagtinge oortref. Die hantering was fenomenaal, en voor ek my oë kon uitvee, was ek deur die wolke, in die hemelruim met ‘n super-sweeftuig wat ek help ontwerp het,” sê Attie. Uys was agter die stokke tydens die tweede toetsvlug. “Ek het geweet ons het ‘n goeie sweeftuig gebou, maar só goed – ek was aangenaam verras. Die JS3 is beslis die beste 15m klas sweeftuig wat ek nog ooit gevlieg het.”

Die JS3 weeg ‘n skamele 266kg en kan in die regte omstandighede ‘n spoed van 290km/h bereik. Dr Johan Bosman, mede-eienaar van Jonker Sailplanes en ook verbonde aan die NWU se Skool vir Meganiese Ingenieurswese, was verantwoordelik vir die aërodinamika van die nuwe sweeftuig. “Na sowat vyf jaar se navorsing, wat onder andere ‘n PhD-studie insluit en 15 ingenieurs wat 10 maande voluit gewerk het aan die nuwe ontwerp, is die JS3 uiteindelik ‘n wenresep. Ons voer tans sowat 90% van ons sweeftuie na ander lande uit, en kan nie wag om dit in die mark bekend te stel nie. Met die JS3 dink ek, ons het weereens die maatstaf gelig.”

Liefde oorgedera van een generasie na die ander

Die Jonker-broers se voorliefde vir sweeftuie is by hul pa, Tienie Jonker, gekweek. Hy het jare gelede sy eerste sweeftuig in sy motorhuis gebou en sê dit was waar sy seuns se liefde vir lugvaart posgevat het...
 

Die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, prof LJ Grobler, het jonker Sailplanes geluk gewens met hul nuwe innoverende sweeftuig. “Die NWU is trots om onsself met Jonker Sailplanes te vereenselwig. Ons wens hulle alle sterkte toe en sien uit daarna om te sien hoe die mark die nuwe JS3 sal ontvang.”