Jong NWU-wetenskaplike gaan met Nobelpryswenners skouers skuur

Marelize Santana -- Tue, 04/18/2017 - 09:06

Jong NWU-wetenskaplike gaan met Nobelpryswenners skouers skuur

Min wetenskaplike gebeurtenisse is meer luisterryk as dié waar Nobelpryswenners hulle kennis deel. Retha Peach, ’n doktorale student van die Noordwes-Universiteit (NWU), kry die seldsame geleentheid om ’n byeenkoms by te woon waar 31 Nobelpryswenners teenwoordig sal wees.

Retha is een van vyf wetenskaplikes wat deur die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) gekies is om van 25 tot 30 Junie aan die 67ste Lindause Nobelpryswennersvergadering in Duitsland deel te neem.

Sy en 400 ander chemici, almal onder 35 jaar oud, neem deel aan ’n ses dae lange program van lesings en paneelbesprekings. Altesaam 76 lande sal verteenwoordig word en 31 Nobelpryswenners sal dit bywoon.

Retha is ’n doktorale student in Chemiese Hulpbronveredeling, ’n navorsingsentiteit op die NWU se kampus in Potchefstroom, en is in 2014 en 2015 as die beste meestersgraadstudent in die fakulteit en die fokusarea aangewys.

Studies open ’n nuwe wêreld van navorsing

As ’n vroulike wetenskaplike sê sy dat tye verander het, en dat vroue nou die selfvertroue het om geleenthede na te jaag en hoër hoogtes na te streef omdat hulle passievol oor hulle navorsing is.

Retha sê dat haar BSc-studies en blootstelling aan chemie ’n groot nuwe wêreld van navorsingsmoontlikhede vir haar oopgemaak het. “Ek was vasbeslote om voort te gaan en het besef dat navorsing my passie is, ’n manier om ’n bydrae te lewer en deel te wees van die oplossing in ’n wêreld wat verandering nodig het.”

Retha is in Bethlehem in die Vrystaat gebore en het 15 jaar gelede saam met haar ouers Klerksdorp toe verhuis. “My twee onderwysers, Theresa Buys (Wiskunde) en Annelise Ferreira (Wetenskap) by die Hoërskool Klerksdorp, het die grondslag gelê waarop ek by die universiteit verder kon voortbou.”

Oor haar reis Duitsland toe sê sy: “Dit is ’n spesiale eer om Suid-Afrika as wetenskaplike te verteenwoordig, maar dit dra ’n groot verantwoordelikheid. Ek is baie opgewonde om my navorsingservarings en idees met ander jong navorsers van regoor die wêreld, asook die Nobelpryswenners, te deel.”

Retha Peach.