Jag is ’n multimiljardrand-besigheid

Belinda Bantham -- Mon, 06/10/2019 - 10:00

Jag is ’n multimiljardrand-besigheid

Jag as ’n inkomstesektor in Suid-Afrika is miljarde werd, met plaaslike jagters wat ongeveer R11,6 miljard per jaar bestee.

Dit is volgens ’n onlangse studie deur prof Peet van der Merwe en wyle prof Melville Saayman van die Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) by die Noordwes-Universiteit (NWU).

Die studie is van 2005 tot 2017 gedoen met behulp van ’n totaal van sewe opnames.

’n Styging in jagkoste

In die 2015-opname is daar bevind dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse jagter tot R31 000 per jagter per jagseisoen bestee.

Hierdie geld word tipies aan akkommodasie, kos, die vleis, vervoer en jagtoerusting bestee.

Toe die navorsers dieselfde studie in 2017 uitgevoer het, het hulle uitgevind dat die gemiddelde jagter R58 000 per jagter per jagseisoen bestee het. Die navorsers het die styging in jagkoste tot die toename in die prys van brandstof, akkommodasie en kos toegeskryf.

Jagters jag nie vir hulleself nie

Volgens prof Van der Merwe het hulle besluit om Suid-Afrikaanse jagters tydens die 2017-opname te vra of hulle vir hulleself of vir ander mense jag – ’n vraag wat hulle nog nooit vantevore gevra het nie.

Die terugvoer wat hulle ontvang het, was verstommend. Hulle het ontdek dat 54% van biltongjagters vir ander mense jag.

 “Hoewel jag ’n baie duur aktiwiteit is, toon dit dat jagters nie hierdie geld uit hulle eie sakke bestee nie,” sê prof Van der Merwe.  “Hulle kry die een of ander vorm van finansiële vergoeding van die individue vir wie hulle jag.

 “Dit bewys dat daar meer mense is wat wildsvleis verbruik as wat ons gedink het.”