Internasionale sentrum sal neuromuskulêre siektes beveg

Marelize Santana -- Mon, 09/17/2018 - 14:26

Internasionale sentrum sal neuromuskulêre siektes beveg

Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan ’n prominente rol speel in die stigting van ’n nuwe internasionale sentrum vir genomiese navorsing in neuromuskulêre siektes, en in Suid-Afrika se deelname aan hierdie virtuele sentrum. Die sentrum sal wetenskaplikes, akademici en klinici van ses nasies op vier vastelande in hul stryd teen neuromuskulêre siektes byeenbring.

Neuromuskulêre siektes sluit talle verskillende toestande in wat die funksionering van die spiere in die menslike liggaam aantas. Van die meer prominente siektes in hierdie groep is spierdistrofie, amiotrofiese laterale sklerose (ALS) en motorneuronsiekte. Hierdie siektes het die afgelope paar jaar wye publisiteit geniet, met hoëprofiellyers soos die rugbylegende Joost van der Westhuizen en die astrofisikus Stephen Hawking wat hulle lewens met hierdie toestande met die publiek gedeel het.

Gebrek aan befondsing het minder navorsing tot gevolg

Selfs met hierdie beroemde mense wat neuromuskulêre siektes onder die publiek se aandag gebring het, is daar steeds nie genoeg navorsing gedoen om die uitdagings te oorkom wat hierdie groep seldsame en meestal aftakelende siektes aan die lyers daaraan en aan die mediese professie bied nie.

In ontwikkelende lande is hierdie probleem grootliks die gevolg van ’n gebrek aan befondsing, aangesien die meeste navorsing en gesondheidsbefondsing op meer prominente siektes soos MIV/Vigs, tuberkulose, kardiovaskulêre siektes en kanker gerig is.   

Prof Francois van der Westhuizen van die mitochondria-navorsingslaboratorium in die NWU se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe sê ʼn groot internasionale toekenning van die Verenigde Koninkryk se mediese navorsingsraad (UK-MRC) sal die virtuele sentrum oor die volgende vyf jaar ’n werklikheid maak. Dit sal ambisieuse planne vir kliniese opleiding en bevolkingspesifieke genetiese navorsing op vier vastelande moontlik maak. Dis hier, sê Francois, waar die NWU ʼn rol speel.

Maak die stryd wêreldwyd

Hy verduidelik dat die huidige UK-MRC-sentrum vir oordragnavorsing in neuromuskulêre siektes ’n vennootskap tussen University College London, en die Universiteite van Newcastle en Cambridge is. Hulle het die afgelope dekade baanbreker-navorsing gedoen deur groepe pasiënte van meer as 10 000 individue te bestudeer en nuwe terapieë te ontwikkel.

“Toe die UK-MRC onlangs die befondsingsgeleentheid verskaf het om hierdie navorsing wêreldwyd uit te brei, het die sentrum gevestigde medewerkers in sekere lande genader met die idee om ’n nuwe internasionale sentrum te stig om navorsing in neuromuskulêre siektes en terapieë onder ander bevolkingsgroepe te stimuleer. Die VK, Suid-Afrika, Brasilië, Indië, Turkye en Zambië sal deel van hierdie sentrum uitmaak en kundigheid en navorsing deel.  

Francois, ’n navorser oor mitochondriale siektes, sal die primêre ondersoeker aan die Suid-Afrikaanse kant wees. Wetenskaplikes en klinici by vier plaaslike universiteite – die NWU, die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit van Pretoria (UP), en die Universiteit Stellenbosch (US) – sal saam werk om die Suid-Afrikaanse deel van hierdie sentrum te vestig.

Die deel van kennis sal ’n impak hê

“Die eerste doel was om plaaslike medici te kontak wat hoofsaaklik in kliniese en diagnostiese praktyke werk en wat kundigheid in ’n akademiese omgewing gevestig het.   

Hy sê vir die studie oor die volgende vyf jaar behoort hulle ’n Suid-Afrikaanse netwerk by bepaalde plekke te vestig waar:

  • pasiënte met neuromuskulêre siektes spesialisklinieke van die kliniese medewerkers kan bywoon (UK, UP, US) en waar twee kliniese genote in neuromuskulêre siekte opgelei kan word; en
  • die logistiek en infrastruktuur opgestel kan word om uitvoerige genetiese ondersoeke op pasiënte van Suid-Afrika uit te voer.

“Die plan is om oor die volgende vyf jaar ongeveer 10 000 pasiënte uit die ses betrokke lande byeen te kry en te bestudeer om waardevolle kliniese en genetiese data te verkry en te deel, en dit te gebruik om nuwe terapieë te identifiseer en te toets.”

Francois sê nog navorsing is nodig om die unieke genetiese en ander faktore in spesifieke streke te identifiseer wat tot neuromuskulêre siektes bydra.

“Tot nou toe was daar veral in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika beperkte bevolkingspesifieke genetiese bevestiging vir die meeste van die neuromuskulêre siektes. Hoewel ons ’n paar uitstekende klinici en navorsers in Suid-Afrika het, ontbreek genetiese bevestiging en verdere karakterisering van hierdie siektes in ons bevolkings as gevolg van beperkte befondsing, bevolkingspesifieke kennis en diagnostiese kapasiteit. Die aktiwiteite van hierdie nuwe sentrum sal ’n groot bydrae lewer om dit te verander.”

Hy sê groot multidissiplinêre samewerkingspogings waar kennis en kundigheid gedeel word, is ontsaglik belangrik om uitkomste te kan bereik wat nie net ’n groter wetenskaplike impak het nie, maar ook werklike maatskaplike voordele tot gevolg sal hê.

“Dit sal ons help om nuwe weë te vind vir behoorlike diagnoses en maniere om hierdie siektes te hanteer, en om nuwe medisynes te ontwikkel om dit te beveg,” sluit hy af. 

Prof Francois van der Westhuizen.

  Die NWU is gasheer vir biochemici by die internasionale konferensie
Die NWU se biochemici is nie net betrokke by die stigting van die Internasionale Sentrum vir Genomiese Navorsing vir Neuromuskulêre Siektes nie, hulle was ook die gasheer vir die 26ste tweejaarlikse konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie (SASBMB).
Dit was in samewerking met die Federasie van Verenigings vir Biochemie en Molekulêre Biologie in Afrika (FASBMB) en het van 8 tot 11 Julie op die kampus in Potchefstroom plaasgevind.
Dié vierdagkonferensie het ’n groot groep bekende nasionale en internasionale spesialiste, navorsers en akademici byeengebring. Dit sluit invloedryke persone in soos prof Jeremy Nicholson van Imperial College London, en prof Valerie Mizrahi van die Universiteit van Kaapstad wat die wenner van die MNR se platinummedalje in 2017 was.
Prof Nicholson het gepraat oor die konsep van presisiemedisyne en hoe die korrekte behandeling van ’n individu wat op hul gene en omgewing gegrond is, die toekoms van gesondheidsorg kan wees. Hy het die groot tegnologiese vooruitgang in metabolomika beskryf.
Afgevaardigdes het sessies oor die vier temas van die konferensie bygewoon. Dit was oor menslike siektes, biologiese stelsels, strukturele, sellulêre en molekulêre biologie, en terapeutika en biotegnologie.
’n Groep van 12 onderwerpe wat deel van die temas was, is tydens die geleentheid bespreek. Dit het aansteeklike siektes, nie-aansteeklike siektes, inflammasie en immuniteit, selbiologie en ontdekking van middels en medisinale plante ingesluit.