Internasionale kenner vra: hoe veilig is jou aanlyn bestaan?

Belinda Bantham -- Wed, 09/13/2017 - 15:16

Internasionale kenner vra: hoe veilig is jou aanlyn bestaan?

Hoeveel aandag bestee jy aan jou aanlyn sekuriteit? Vir die meeste van ons is daaglikse aanlyn aktiwiteite ʼn gegewe, maar hoe bly jy veilig in die kuberruim?


Dit is juis hierdie vraag wat na vore gekom het toe prof Matt Bishop, ʼn internasionale kubersekuriteitskenner, die Noordwes-Universiteit (NWU) se Eenheid vir Bedryfswiskunde en Informatika (EBWI) in Potchefstroom besoek het.

Tydens sy besoek het prof Bishop het ʼn lesing vir nagraadse Inligtingstegnologie-studente aangebied oor die belangrikheid van die integrering van sekuriteitsaspekte tydens programmering.

Hy het gesels oor die voorkoms van binnekringbedreiging, of “insider threat” soos dit alom bekendstaan. Die kwessies van hoe onderskeid getref moet word tussen wie skade kan aanrig vanaf die binnekring van ʼn besigheid en hoe om die oortreders te identifiseer, is aangespreek en gedebatteer.

Prof Bishop en het saam met prof Lynn Futcher van die Nelson Mandela Universiteit besoek afgelê op versoek van dr Lynette Drevin van die NWU se Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels. Sy aanbieding het by Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels se lesingsreeks aangesluit.

Prof Bishop is verbonde is aan die Departement van Rekenaarwetenskappe aan die Universiteit van Kalifornië in Amerika en is tans die sekretaris van die World Information Security Education Conference (WISE) wat elke tweede jaar aangebied word. Dit is juis tydens een van hierdie konferensies waar hierdie drie navorsers, prof Bishop, prof Futcher en dr Drevin, mekaar ontmoet het.

Besoek gerus prof Bishop se sy webwerf vir meer inligting oor sy navorsing: http://nob.cs.ucdavis.edu/bishop/index.html

*Prof Lynn Futcher is die voorsitter van die International Federation for Information Processing (IFIP) se werkgroep oor Inligtingsekuriteitsopleiding.

 Prof Lynn Futcher, prof Matt Bishop en dr Lynette Drevin.