Inflasie en die impak wat dit op rentekoerse het, quo vadis? Trade ondersoek en voorspel korttermynmoontlikhede

Marelize Santana -- Mon, 07/29/2019 - 15:10

Inflasie en die impak wat dit op rentekoerse het, quo vadis? Trade ondersoek en voorspel korttermynmoontlikhede

Die besluit van die monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) op 17 Julie om die repokoers met 0,25% vanaf 6,75% tot 6,50% te verlaag, het ’n debat oor die moontlikheid van verdere verlagings in rentekoerse laat onstaan.

“Die SARB, deur sy MBK, het die mandaat en verantwoordelikheid om die inflasiekoers tussen die teikenband van 3% tot 6% te hou,” sê prof Danie Meyer, direkteur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Trade and Development-navorsingsentiteit (TRADE).

“Sedert die instelling van die teikenband in die vroeë 2000’s het die SARB daarin geslaag om die inflasiekoers meestal binne die band te hou.”

Hy sê dat die maandelikse inflasiekoers vir 2019 in Mei 2019 vanaf 4,0% na die middelpunt van die teikenband, naamlik 4,5%, verskuif het. Sedert die MBK se besluit op 17 Julie om die repokoers te verlaag, is die jongste inflasiedata vrygestel, en die belangrikste uitkoms was dat inflasie vanaf Mei tot Junie konstant op 4,5% gebly het.

“Die MBK behoort op grond van hierdie inligting die repokoers by hulle volgende vergadering, wat vir 19 September 2019 beplan is, konstant te hou. Of moet hulle dit op 6,5% hou?”

Volgens prof Meyer is daar talle faktore wat op ’n verdere verlaging in rentekoerse dui. Hy sê eerstens dat inflasie op 4,5% by die middelpunt van die teikenband relatief laag is, met geen vraaginflasiedruk nie. Inflasie word deur kostefaktore soos die petrolprys, mediese koste, elektrisiteit- en voedselpryse en munisipale rekeninge gedryf.

“Daar word voorspel dat inflasie in Julie as gevolg van laer brandstofpryse sal daal. Tweedens, die ekonomie het dringend ’n verdere hupstoot nodig as gevolg van die skokkende BBP-groeidata van -3,2% vir die eerste kwartaal van 2019, wat vrese vir ’n nuwe resessie laat opvlam het,” voeg hy by.

Prof Meyer sê dat die oorspronklike verlaging van slegs 0,25% in Julie nie ’n beduidende positiewe impak op die ekonomie sal hê nie, maar dat ’n verdere verlaging dit wel kan hê.

“Die SARB verstaan die moeilike posisie van die ekonomie en het die BBP-voorspelling vir 2019 vanaf 1,0%-groei tot slegs 0,6% groei verlaag.

“’n Derde rede vir die verlaging in die repokoers is dat die VSA se Sentrale Bank (die FED) op 31 Julie 2019 vergader en dat die algemene verwagting is dat daar ’n verlaging in koerse in die VSA sal wees. Dit sal die reële rentekoersverskil tussen die VSA en Suid-Afrika konstant hou en grootskaalse uitvloei vanuit Suid-Afrika voorkom.”

Prof Meyer verduidelik dat as ’n mens laastens kyk na die produsenteprysindeks (PPI), wat ’n leidende aanwyser vir die inflasiekoers is, het die PPI vanaf 6,4% in Mei tot 5,8% in Junie gedaal.

“Die PPI is ’n meting van die verandering in die pryse van goedere wanneer dit die fabriek verlaat of wanneer dit die produksieproses binnegaan. As bogenoemde kwessies in ag geneem word, word daar verwag en voorspel dat die inflasiekoers vir Julie op tussen 4,2% en 4,4% sal stabiliseer, wat laer is as die koers van 4,5% in Junie. Daarbenewens behoort die MBK dan in die posisie te wees om by hulle volgende vergadering in September 2019 die repokoers met ’n verdere 0,25% te verlaag.”

Prof Danie Meyer.