Indrukwekkende groep sprekers vir die 3de jaarlikse NWU Mensekapitaal-beraad

Belinda Bantham -- Tue, 07/09/2019 - 10:30

Indrukwekkende groep sprekers vir die 3de jaarlikse NWU Mensekapitaal-beraad

Ná die oorweldigende sukses van die 2018-weergawe van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mensekapitaal-beraad, is alles gereed vir die derde jaarlikse beraad wat op die NWU se kampus in Mahikeng aangebied gaan word.

By hierdie jaar se beraad – ’n inisiatief van die NWU se Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur – sal bedryfsielkundiges, kundiges in mensehulpbronbestuur, akademiese personeel, navorsers en nagraadse studente bymekaarkom om die impak van die huidige industriële revolusie te bespreek.

Besprekingsonderwerpe op die agenda sal onderwerpe insluit soos die noodsaaklikheid van skaars vaardighede binne die dissipline, die bestuur van generasie Z-werknemers, dubbele loopbaangeleenthede in die tegnologiese era, openbaredienslewering, en nuwe tegnologieë.

Tydens die beraad sal afgevaardigdes die geleentheid kry om met verskeie hoëvlakkundiges skouers te skuur, waaronder die volgende:

  • Bokang Mabiletsa,
  • Carl Mayeza,
  • Dr Moeletsi Leballo,
  • Kgomotso Mopalami, en
  • Neo Mpele.

Meer oor die sprekers

Bokang Mabiletsa word as een van Suid-Afrika se top professionele sprekers beskou en is ’n spesialis in digitale kommunikasie, en ’n selfverklaarde reeksentrepreneur. Hy is bekend vir sy vermoë om werklike en praktiese oplossings te verskaf oor die manier om werks- en lewensuitdagings in die digitale era aan te pak. Met meer as 15 jaar ervaring agter die rug, vervul Bokang tans die rol van direkteur by die volgende maatskappye: Mind Interactive, Blueshift Energy Solutions en Elite CV.

Carl Mayeza is ’n gesoute algemene deskundige op die gebied van mensehulpbronbestuur en -ontwikkeling, en was vanaf 2009 ’n senior tegniese adviseur by Bestuurswetenskappe vir Gesondheid (Management Sciences for Health (MSH)). In hierdie kapasiteit het hy tot Oktober 2010 leierskaps- en bestuurskundigheid aan die Suider-Afrikaanse Mensekapasiteitsontwikkelingsprojek (SA-HCD-projek) verskaf.

Hy het ’n tyd lank as onafhanklike sielkundige en deeltydse dosent aan die NWU se Nagraadse skool vir Bestuur en Leierskap gewerk, en is tans ’n dosent by die Departement van Besigheidsbestuur aan die Universiteit van Limpopo. Hy is ook ’n ervare konsultant en fasiliteerder van ontwikkelingsprogramme in mensehulpbronnekapasiteit, organisasie-ontwikkeling en transformasie-dienslewering, en is ook ’n eksaminator op die RGBSA se Professionele Raad vir Sielkunde.

Dr Moeletsi Leballo het medies aan die Sofia Mediese Universiteit in Bulgarye studeer en het in 1988 gekwalifiseer. Hy het in 1989 sy internskap by die Muhimbili Mediese Universiteit voltooi en ook by die ANC-Holland Solidarity-hospitaal in Morogoro in Tanzanië gewerk waar hy Suid-Afrikaners in ballingskap versorg het.

Nadat hy in 1991 na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy ses jaar lank in die Bophelong Hospitaal gewerk waarna hy sy eie privaat praktyk begin het. Sedertdien het hy ook by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gewerk, as proporsionele raadslid (PR-raadslid) by die ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit gedien, as die adjunkdirekteurgeneraal in publieke administrasie (DDG) van Noordwes se provinsiale regering opgetree, en dien tans as kommissaris in die Openbare Dienskommissie.

Kgomotso Mopalami het ’n meestersgraad in mensehulpbronbestuur. Haar navorsingstesis het gefokus op ’n Suid-Afrikaanse verhouding tussen waargenome billikheid in mensehulpbronbestuurspraktyke en werknemers se sielkundige omgewing. As die hoof van navorsing en innovasie by die Suid-Afrikaanse Raad Mensepraktyke (SARMP) dra sy deur middel van artikels en feiteblaaie, soos dit op die SARMP se webwerf gepubliseer word, tot ’n deurlopende ontwikkeling in die MH-professie by. Sy is ook die opsiener by verskeie van die SARMP se nasionale komitees, naamlik: MH-beheer, Etiek, Veranderingsbestuur en die Mensehulpbron-navorsingsinisiatief.

Neo Mpele is die direkteur van Letshalo HR Services en ’n geregistreerde MH-kundige by die SARMP. Sy het meer as 12 jaar ervaring regoor verskillende bedrywe. Haar kundigheidsgebied is die ontwikkeling van talent- en prestasiebestuur, die implementering van SAGE People 300, vergoeding, voordele-inisiatiewe en die verskaffer van advies en ondersteuning aan kliënte in strategieë om talentvolle mense te lok, te ontwikkel en te behou.

Bespreek jou plek

As jy belangstel om die beraad by te woon, registreer asseblief via die NWU-webwerf. Vir meer inligting skakel of e-pos: 018 389 2391, kelebogile.paadi@nwu.ac.za  of 018 389 2920, Doreen.morukhu@nwu.ac.za