Impak van Covid-19 op elite-sportlui

Belinda Bantham -- Fri, 06/26/2020 - 13:15

Impak van Covid-19 op elite-sportlui

Dit is veilig om te sê dat almal se lewens op een of ander manier deur die streng Covid-19-inperkingsregulasies geraak word. Dit sluit die professionele mense in wat ons op ’n daaglikse basis in die sportstadions vermaak – ons sportlui.

Prof Pieter Kruger, direkteur van die Noordwes-Universiteit se Instituut vir Sielkunde en Welstand en ’n bekende sielkundige, het oor die afgelope 10 weke met ’n aantal elite-sportlui in rugby, premierskapsokker en professionele gholf, asook ’n paar Olimpiese atlete, gewerk wat hulleself in die vakuum bevind wat Covid-19 in die sportwêreld gelaat het.

Hulle ervaar almal soortgelyke uitdagings, naamlik leë stadions, geen oefening nie, sosiale distansiëring, en ’n klomp buitengewone omstandighede wat hulle moet hanteer. Soos vir die meeste van ons – benewens die voor die hand liggende uitdagings en bekommernisse oor die virus self – was dit ’n interessante en nuwe ervaring om lang tye tuis saam met geliefdes deur te bring. Vir sportlui het dit ook ’n interessante nuwe roetine beteken waar hulle nie tussen afsprake moes rondhardloop, regoor die wêreld moes reis om aan kompetisies deel te neem, of by spesifieke oefenskedules moes hou nie, en skielik in ’n tydsraamwerk moes werk wat moontlik meer by individuele chronotipes (jou slaap-wakker-voorkeur) pas. Ongelukkig het die meeste mense gou besef dat dit nie so wonderlik is as wat hulle gedink het dit sal wees nie.

“Ons is nie net gedwing om in ’n geografies-beperkte ruimte (tuis) te beweeg nie, maar dit het onvermydelik ook begin om ’n beduidende impak op mense se emosies en gedragspatrone te hê. Ons het skielik op verskillende tye begin slaap, op verskillende tye begin eet, op verskillende tye begin oefen, en het meer tyd met tegnologie deurgebring. Ons het beduidend minder begin beweeg. Benewens die een intense oefensessie per dag waarby die meeste sportlui gehou het, het die staat van inperking ook betekenisvolle veranderings in ons sosiale patrone gebring,” sê prof Kruger.

Onder normale omstandighede sal mense uitgaan en gaan fliek of teater toe gaan, vriende vir ’n drankie ontmoet, mense vir ’n braai oornooi, of gaan gholf speel, fietsry of aan ander buitemuurse aktiwiteite deelneem om stres te hanteer. Alles het in ’n oogwink verander toe hierdie veranderings op ons afgedwing is – sonder uitsondering.

“Dit het grootliks ingemeng met sportlui se vermoë om hulle stres en bekommernisse te bestuur, wat vanuit ’n algemene gemoedsperspektief weer ’n negatiewe impak op party van hulle gehad het. ’n Beduidende aantal mense het gevind dat dit baie moeilik is om hierdie veranderings te hanteer, en dit het gelei tot verskeie angsverwante simptome soos spierspanning, swak slaapgehalte, frustrasie en die onvermoë om hulle gemoed te beheer. Hulle het probleme met verhoudings ervaar, en gastro-intestinale probleme, konsentrasieprobleme en selfs hoofpyn ondervind. Sommige van hulle het om hulp aangeklop, party het daarin geslaag om self deur hierdie tydperk te kom, en ander het in stilte gely. Die vlak van onsekerheid en hulpeloosheid het ongelukkig vir die meeste mense hierdie reeds uitdagende situasie vererger.”

Gelukkig is dinge besig om stadig na ’n soort normaal terug te keer met dié dat die inperkingsregulasies verslap is, oefening kan voortgaan en die vooruitsig van wedstryde stadigaan terugkeer. Daar word gehoop dat dit vir spelers sal help om die huidige simptome te hanteer en te verlig, hoewel die terugkeer na oefening en die bekommernisse oor die hervatting van hoogs mededingende, intense wedstryde hulle eie vlak van bekommernis sal meebring.

“Dit is noodsaaklik dat spelers ’n uitgewerkte plan moet hê om hierdie nuwe oorgangsfase te benader om te verseker dat hulle hulleself optimaal kan voorberei (fisiek en geestelik) om weer te begin oefen en wedstryde te speel. Daar word gehoop dat franchises en unies die nodige ondersteuningstelsels in plek sal plaas om spelers gedurende hierdie nuwe oorgangstydperk te help en om ’n gladde terugkeer na sake soos gewoonlik te verseker,” sluit prof Kruger af.