Hoe vroeër hoe beter vir Afrika se kinders

Belinda Bantham -- Thu, 11/29/2018 - 14:28

Hoe vroeër hoe beter vir Afrika se kinders

Verbeel jou jy kyk na ’n bladsy en kan nie lees of die woorde ten volle verstaan nie omdat jy nooit die vaardighede om dit te doen, ontwikkel het nie. Dit is die werklikheid vir talle van die kinders in Afrika. Dit is ook ’n groot struikelblok vir die ontwikkeling van die vasteland se mense, aangesien vroeë geletterdheid vir kinders se leesvermoëns en die toekomstige sukses van hulle opvoeding noodsaaklik is.


Dit is ’n hartseer feit dat die meeste kinders uit Afrika nie die nodige blootstelling aan die geskrewe woord kry nie. ’n Internasionale loodsstudie met die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof Rosemary Wildsmith-Cromarty van die Opvoedkunde, Opleiding en Ontwikkelingspraktyke-SETA (ETDP-SETA) se Navorsingsleerstoel in Vroeë Kinderopvoeding as medehoof kyk na maniere om hierdie ernstige probleem te hanteer.

Die studie wat vier lande en ongeveer 1 500 kinders betrek het, het bevind dat talle kinders uit benadeelde gemeenskappe op mondelinge vertellings, gemeenskapskennisgewings en die vertel van stories moet staatmaak om hulle geletterdheidsvaardighede tuis te ontwikkel. Hulle gebruik wel selfone, maar dit bied net beperkte geletterdheid deur middel van teksboodskappe en die lees daarvan. Die algemeenste teks in huise is gewoonlik die Bybel.

Die situasie by die skole is nie veel beter nie. Kinders ontwikkel wel ’n paar komponente van vroeë geletterdheid (die fase voordat hulle werklik kan lees en skryf), en onderwysers het wel toegang tot onderrighulpmiddels om geletterdheid te bevorder. Talle onderwysers is egter vasgevang in ’n tradisionele manier van onderrig wat op gesamentlike koorspraak en papegaaileer berus. Dit is ’n groot struikelblok in die ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede en word van voor graad R tot by graad 3 en 4 volgehou.

Navorsing in die gemeenskappe

Die SETA-navorsingsleerstoel se navorsingsprojek, genaamd die leesnavorsingsnetwerk (Reading Research Network), is oor die afgelope vier jaar deur middel van konferensies ontwikkel. Die NWU se prof Rosemary en prof Caroline Dyer van die Universiteit van Leeds is aan die stuur van die projek, wat in Februarie volgende jaar sal afsluit.

Prof Rosemary sê die studie wat deur die Universiteit van Leeds aangebied word, het navorsers van die NWU, Leeds, die Universiteit van Sussex, die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Durban Universiteit van Tegnologie na skole en huise in Suid-Afrika, Ethiopië, Namibië en Uganda geneem.

 “Ons het met onderwysers onderhoude gevoer en klaskameraktiwiteite waargeneem. Daarna het ons die huise van die kinders besoek waar ons met die ouers en versorgers onderhoude gevoer het.”

Sy sê dat hulle na twee skole in elke land gekyk het – een stedelike en een plattelandse skool – asook na hulle omliggende gemeenskappe. Hulle dit gedoen om vas te stel watter soort geletterdheidsblootstelling jong kinders in Afrika vanaf hulle huise tot in graad 4 ontvang.

Die belangrikheid van vroeë geletterdheid

Prof Rosemary sê neurowetenskap het ontdek dat as kinders nie teen ’n sekere ouderdom stimulasie ontvang het nie, sekere sinapse in die brein teen die ouderdom van twee jaar begin atrofieer. “Dit hou veral met geletterdheid verband. As die kinders nie hierdie sinapse ontwikkel tot by die punt waar hulle vir die toekoms daarop kan voortbou nie, word latere leer ’n geweldige uitdaging, soos ons in die mees onlangse resultate van die Vordering in Internasionale Leesgeletterdheid-studie (PIRLS) en die Tendense in Internasionale Wiskunde en Wetenskap-studie (TIMMS) gesien het, waar veral Suid-Afrikaanse kinders van die swakste presteer. (PIRLS is ’n internasionale studie vir prestasie in lees (begrip) by graad 4’s.  TIMMS is ’n reeks internasionale assesserings van die wiskunde- en wetenskapkennis van leerders regoor die wêreld).”

Sy sê dat die leesnavorsingsnetwerk se doel nou is om ’n baie groter navorsingstudie op grond van die bevindings van hierdie loodsstudie te doen. “Ons glo dat die navorsing ’n groot verskil in die lewens van Afrika se kinders kan maak.”

Die antwoord op die gebrek aan blootstelling lê binne ons gemeenskappe waar die kinders woon. “Gemeenskappe moet vir die opvoeding van hulle mense verantwoordelikheid neem. Ons het onderwysers nodig wat verstaan wat speelgebaseerde leer en stimulasie behels. Die dosente wat voornemende onderwysers oplei, moet dit ook weet.”

Dit is waar die navorsers ’n betekenisvolle impak kan maak en saamwerk met die gemeenskappe, insluitende die NRO’s, wat in daardie kontekste werk. “Ons moet ’n span mense hê wat plaaslik en kontekstueel kan werk – hopelik met gemeenskapskolleges betrokke – om vroeë kinderontwikkeling te bevorder. Op die ou end gaan dit alles oor die ontsluiting van die vaardighede wat kinders in staat sal stel om die geletterdheidsleer van sukses te klim.”