Hoe raak geestesgesondheid babas en peuters?

Belinda Bantham -- Wed, 10/11/2017 - 09:56

Hoe raak geestesgesondheid babas en peuters?

Oktober is Bewustheidsmaand vir Geestesgesondheid, en Hanlie Degenaar, ʼn spraak- en taalterapeut by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Instituut vir Sielkunde en Welstand, deel die volgende artikel ter ondersteuning van hierdie belangrike veldtog.

Oor die belangrikheid van vroeë-ontwikkelingstimulasie vir babas en peuters stry niemand nie. Daar word algemeen aanvaar dat jong kinders (0–3 jaar) vroeg reeds gestimuleer moet word met allerhande opvoedkundige aktiwiteite om ontwikkeling te bevorder. Die belangrikheid van geestesgesondheid vir vroeë ontwikkeling by babas en peuters is minder bekend.

Ons hoor nie dikwels dat geestesiektes by babas en peuters gediagnoseer word nie. Gevolglik laat die woorde baba en geestesgesondheid in een sin maklik die wenkbroue lig. Die werklikheid is dat geestesgesondheid by geboorte begin en die grondslag is waarop vroeë ontwikkeling en leer gebou word.

Wat word met geestesgesondheid by babas en tydens vroeë kinderontwikkeling bedoel?

Geestesgesondheid omvat ʼn persoon se vermoë om gemaklik en effektief met ander te kommunikeer, gedrag te reguleer, gesonde verhoudings te bou en met emosionele insig te kan optree. Hierdie vaardighede word eerder met ouer kinders en volwassenes vereenselwig, maar is ʼn integrale deel van ʼn baba en peuter se ontwikkeling.

Baba- en vroeëkindergeestesgesondheid beskryf hoe kinders onder vyf jaar binne hulle gesinne, die gemeenskap en hulle kultuur geleidelik leer om

  • naby en veilige verhoudings te sluit,
  • emosies wat hulle beleef, te verstaan en te reguleer, en
  • hulle omgewing te verken om vaardighede aan te leer.

Hoe vroeër en beter hierdie vaardighede ontwikkel, hoe beter sal ʼn jong kind op uitdagings en die mense in sy omgewing reageer.

 

Positiewe en genotvolle interaksie tussen die jong kind en sy omgewing bied geleentheid vir gesels, leer, verhoudings bou en emosionele regulering. ʼn Voorbeeld hiervan is ʼn skattige, vriendelike baba wat aandag en ʼn verskeidenheid geselsies uitlok, met die gevolg dat mense graag ʼn ogie oor so ’n baba hou. ʼn Huilende, kwaai baba ontlok minder geselsies en word liewer in die mamma se hande gelaat. So ’n jong baba, wat moontlik onveilig voel en nie so gemaklik in sy omgewing reageer nie, leer minder en ontwikkel soms stadiger as ander babas. Daar is baie goeie bewyse dat vroeë negatiewe ervarings wat gereeld voorkom later in die baba of peuter se lewe  tot probleme met geestesgesondheid kan aanleiding gee.

Vroeë ervarings beïnvloed toekomstige geestesgesondheid

Daar word beraam dat meer as een miljoen nuwe neurale verbindings per sekonde deur vroeë ervarings in die baba se brein gevorm word. Hierdie neurale verbindings bepaal hoe die baba nou en veral later op uitdagings en persone in sy omgewing sal reageer. Vroeë positiewe ervarings hang af van genotvolle interaksie en kommunikasie tussen die baba en hulle ouers. Wanneer die baba blootgestel word aan ouers wat deurentyd hulle kommunikasieseine goed verstaan, koesterend reageer, en die geleentheid vir interaksie skep, ontwikkel die baba emosioneel gesond.

Om ʼn baba of peuter se kommunikasieseine altyd korrek te verstaan, is nie so maklik nie. Babas en peuters is nog nie taalvaardig nie en hulle spraak is dikwels onduidelik. Menige ouer met ʼn huilende baba het al desperaat gewens dat hulle baba net kan praat sodat hulle kan hoor wat die baba tevrede sal stel!

Verder beperk werksdruk, dagsorg, noodsaaklike roetines en verpligtinge van ouers maklik die hoeveelheid genotvolle interaksies tussen ouers en hulle baba of peuter. Ouers kan wonder hoe hulle aan nóg ʼn eis soos meer genotvolle interaksies kan voldoen.

Wat kan ouers doen?

Alhoewel gesels met jou baba of peuter baie belangrik is vir taal- en kognitiewe ontwikkeling, kan dit help om nie dadelike weg te val met gesels as jou baba of peuter met jou begin gesels of vir jou kyk nie. Wag eerder vir vyf tellings met ʼn vriendelike glimlag. Gebruik die tyd om fyn waar te neem wat die baba doen. Luister ook aandagtig vir enige geluide, halwe woorde of woorde. Boots jou baba of peuter dan na en wag om te kyk wat hulle reaksie is. Bly vriendelik, geïnteresseerd en naby. Boots weer hulle reaksie na, gesels ’n bietjie meer, gevolg deur die volgende stap in julle roetine. Met die vierde keer wat jy wag, probeer iets prettigs doen, soos om die baba te kielie. Dit is interessant dat jong kinders meestal tevrede is met vyf sulke interaksies op ʼn keer. Die maklikste is om hierdie stappe elke dag in die gewone roetine van etenstyd, slaaptyd, badtyd, aantrektyd en doek-omruiltyd in te pas.

Interaksie op hierdie manier help jou baba of peuter om warmte en aanvaarding te beleef. As hulle roetinetakies saam met jou bemeester, lewer dit ʼn positiewe bydrae tot vertroue in hulle eie vaardighede. Die manier waarop julle beurte maak, kweek ’n bewustheid van selfstandigheid, respek en empatie. Herhalende roetines laat ʼn jong kind veilig voel en stel ook grense vir die inoefening van dissipline vas.

Ouers baat ook

Daar is bewyse dat ouers ook daarby baat vind om op hierdie manier met hul kinders te gesels. Bevredigende kommunikasie-interaksie tussen jong kinders en ouers help om die natuurlike spanning wat met ouerskap gepaardgaan en ouers se twyfel oor hulle eie ouerskapsvaardighede te verminder. Genotvolle interaksie met babas en peuters kan ook ouers se gemoed en produktiwiteit positief beïnvloed. Dink daaraan hoe ’n lekker lag vir ʼn baba of peuter se vriendelike manewales vir ʼn ligter gemoed sorg en dikwels tot ʼn storie lei wat met kleur en geur oorvertel word!

Oktobermaand is die tyd om meer van geestesgesondheid bewus te raak en dus ook om aandag aan jong kinders te skenk deur voorkomend op te tree.

 

Hanlie Degenaar