Hoe om gewasse te kweek en terselfdertyd energie op te wek

Marelize Santana -- Mon, 06/19/2017 - 11:41

Hoe om gewasse te kweek en terselfdertyd energie op te wek

’n Slim sonkragvennootskap tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en ’n Duitse hernubare-energiemaatskappy is besig om gemeenskappe te bemagtig om voedsel te kweek terwyl hulle energie opwek.

Hierdie vennootskap tussen die Fakulteit Ingenieurswese en SUNfarming, een van Duitsland se 10 groot fotovoltaïese projekontwikkelingsmaatskappye fokus op die gebruik van tegnologiegedrewe ingenieursoplossings om tradisionele, kleinskaalse groenteboerdery tot nuwe hoogtes te voer. Die projek word gedeeltelik deur die Duitse regering gefinansier.

Hierdie vennootskap sal aanvanklik die plaaslike Ikageng-gemeenskap buite Potchefstroom bevoordeel, maar kan later regdeur Afrika gebruik word om vaardighede oor te dra, energie op te wek en volhoubare werk en kos te verskaf.

Unieke kweekhuise
Die basis van hierdie projek is die Voedsel- & Energie-sonkragopleidingsentrum op die NWU se kampus in Potchefstroom. Dit bestaan uit unieke landbou-sonkrag-kweekhuise, waarvan die eerste drie reeds suksesvol getoets en in bedryf is.

Die wonderlike van die kweekhuise is dat hulle soveel meer produseer – met minder. “Ons verdubbel die waarde van die oppervlakte omdat ons nie slegs landbouprodukte kweek nie, maar die sonpanele genereer terselfdertyd ook energie,” sê prof LJ Grobler, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese.

Blomkool, blaarslaai, spinasie, kool, brokkoli en uie word in drie kweekhuise gekweek. Die oorspronklike plante, misstof en kompos is deur die NWU en SUNfarming geskenk. Daarna sal die inkomste wat uit hierdie produkte verdien word die projekbegunstigdes help om vir talle produksiesiklusse in die toekoms volhoubaar te wees.

Vroue speel ’n belangrike rol
Verskeie vroue van die Ikageng-gemeenskap is geïdentifiseer en word oor bewerkingsmetodes, insekbeheer, voedingswaardes van verskillende gewasse, wortelstelsels en oestegnieke opgelei en onderrig.

“Wanneer die groente gereed is om geoes te word, gaan ons dit aan plaaslike supermarkte verkoop. Ons kan hierdie inkomste gebruik om onsself te betaal, nuwe plante, misstof en kompos aan te koop en die proses van vooraf te begin,” sê Motlalepula Magini, een van die begunstigdes. “Dit is ’n volhoubare oplossing wat nie net vir ons werk skep nie, maar ook die geleentheid verskaf om ander met die heilsaamheid uit die aarde te bemagtig. Dit stel ons in staat om minder afhanklik van ander mense te wees.”

Sy voeg by dat hulle ’n verantwoordelikheid het om die kennis wat hulle opdoen aan hulle kinders en naburige inwoners oor te dra. “Ek kan reeds die opgewondheid oor ons projek sien. Ons sal binnekort plante huis toe kan neem om ons eie groetetuine mee te begin. Die plan is om hierdie inisiatief verder uit te bou en binnekort so veel as vyftig vroue met kennis en vaardighede toe te rus.”


Begunstigdes en werkers van die NWU se SUNfarming-projek besig om hulle groente te versorg.


Dit is die toekoms – minister
Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, was vol lof vir die projek toe hy die terrein van die projek op die NWU se kampus in Potchefstroom besoek het.

“Wat ek vandag gesien het, is die toekoms van landbou. Ek wens julle geluk met ’n ongelooflike inisiatief en innovering,” het hy gesê. “Dit is belangrik dat hierdie en ander projekte samewerkingsooreenkomste met die privaat sektor moet verkry om dit verder oor die provinsie en die land uit te brei.”

Prof Fika Janse van Rensburg, waarnemende rektor van die kampus in Potchefstroom, het volmondig saamgestem en gesê: “Talle gemeenskappe sal by hierdie inisiatief baat sou dit op ’n groter skaal bedryf word.”

Mnr Peter Schrum, stigter van SUNfarming, sê dat hierdie projek volhoubare produksiegeleenthede vir gemeenskappe bied soos nog nooit tevore nie. “Dit kan tussen 50 en 65 werksgeleenthede per projek skep en bied ’n kans op ’n inkomstegeleentheid wat voedselproduksie en die opwekking van energie kombineer. As dit gekombineer word, word die risikofaktore beduidend minder.”

Die Voedsel & Energie-projek is die eerste van sy soort in Afrika, en SUNfarming se doelwit is om hierdie projek na universiteite en skole regoor Afrika uit te brei. SUNfarming en die NWU wil dan die hart van kundigheid met betrekking tot navorsing, opleiding en ondersteuning vir hierdie universiteite wees.


Peter Schrum, stigter van SUNfarming, word hier saam met die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, en prof LJ Grobler, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, gesien.