Hoër vlakke van werkloosheid versterk behoefte aan ekonomiese groei en strukturele hervorming

Belinda Bantham -- Fri, 08/02/2019 - 12:46

Hoër vlakke van werkloosheid versterk behoefte aan ekonomiese groei en strukturele hervorming

“Die jongste teleurstellende werkloosheidsyfers vir die tweede kwartaal van 2019 is nog ’n sterk wekroep oor waarom dit nodig is om die ekonomie vroeër eerder as later om te keer.”

So sê prof Raymond Parsons, bekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.

Hy sê wat veral kommerwekkend is, is die vlak van werkloosheid onder die jeug, wat nou 54% is.

“Dit is duidelik dat die ekonomie sukkel om op ’n voldoende skaal werk te skep, en die beleidsomgewing bly onseker. Die versterking van beleggersvertroue en hoër ekonomiese groei moet dus steeds die oorheersende prioriteite wees om Suid-Afrika se ekonomiese prestasie te onderskraag.”

Volgens prof Parsons moet die Suid-Afrikaanse ekonomie nou nie net in ’n sterker groeibaan kom nie, maar moet dit ook die maksimum getal poste teen enige gegewe groeikoers skep. “Werkryke groei is dus nodig om die vooruitsig te verbeter. Stygende werkloosheid is andersins onvermydelik as groeikoerse laer as 1% bly, en as toepaslike ekonomiese hervorming nie geïmplementeer word nie.”

Hy sê die verswakkende werkloosheidsprentjie is ook ’n sterk herinnering daaraan dat nuwe inligting nodig is oor die 42 aanbevelings wat in Oktober 2018 tydens die werksberaad gemaak is, en oor die mate waarin dit geïmplementeer is.

“Gegee die jongste werkloosheidstendense in Suid-Afrika, moet meer realistiese teikens vir toekomstige werkskepping ook nou gestel word.”