Help werkende moeders wat borsvoed

Belinda Bantham -- Tue, 08/01/2017 - 15:39

Help werkende moeders wat borsvoed

Moeders by die Noordwes-Universiteit (NWU) wat ná kraamverlof terugkeer, hoef nie meer te sukkel om 'n plek te vind waar hulle hul borsmelk kan uitmelk nie. Met Augustus wat die bewustheidsmaand vir borsvoeding is, het die NWU amptelik sy eerste borsvoedingvertrek op die kampus in Potchefstroom geopen.

Die borsvoedingvertrek, genaamd Made for Moms, is ’n veilige en privaat ruimte waarheen NWU-werknemers gedurende werksure kan gaan om hulle borsmelk uit te melk.

Die klein maar gerieflike vertrek is met stoele en ’n wasbak toegerus, en het ’n toegewysde parkeerplek. Dit is by die Lipied- en Metaboliese Kliniek, gebou G17, geleë en is groot genoeg om drie vroue op ’n slag te akkommodeer.

Hoe Made for Moms ontstaan het

Mev Chantell Witten, stigter van Made for Moms, is ’n senior lektor by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die kampus.  Sy het die idee van die borsvoedingskamer in 2016 gestalte laat kry nadat haar studente ’n peiling oor die Goeiepraktykskode rakende die Beskerming van Werknemers tydens Swangerskap en na die Geboorte van ’n Kind gedoen het.

Die kode sê dat reëlings getref moet word vir werknemers wat borsvoed om vir die eerste ses maande van die kind se lewe twee keer per dag vir 30 minute lank hulle werk te kan onderbreek om te borsvoed of uit te melk.

’n Dosent op die NWU se kampus in Potchefstroom wat anoniem wil bly, sê sy is vreeslik opgewonde oor die borsvoedingvertrek.

“Ek deel ’n kantoor met ’n kollega en daarom kan ek nie in ons kantoor uitmelk nie, selfs al sou die deur toe wees. Ek het gevind dat studente en kollegas net ingestap kom. Nadat ek van kraamverlof af teruggekom het, moes ek ten minste twee keer per dag huis toe ry om in die privaatheid van my eie huis te gaan uitmelk,” sê die nuwe moeder.

Voordele van borsvoeding

Volgens Chantell ly vroue wat nie binne sekere tydsraamwerke van die dag uitmelk nie makliker aan mastitis – ’n toestand waar die vrou se borsweefsel pynlik en geïnflammeer word, en in sommige gevalle kan die borsmelk met bakterieë besmet word.

Sy voeg by dat die rede waarom hierdie vertrek so belangrik is, is omdat borsmelk ’n groot impak op die toekoms van kinders het.

Chantell sê: “Ek wil graag die Fakulteit Gesondheidswetenskappe se dekaan, prof Awie Kotze, wat hierdie inisiatief van die begin af gesteun het, asook prof Marius Smuts, direkteur van die Sentrum van Uitnemendheid en Voeding, en suster Chrissie Lessing, ’n verpleegkundige by die Lipied- en Metaboliese Kliniek, vir hulle ondersteuning bedank. Ons moedig ook ander fakulteite aan om borsvoedingvertrekke vir hulle personeel daar te stel.”

Voordele van borsvoeding:

•             Dit is minder waarskynlik dat babas wat geborsvoed word, sal siek word, sterf, of aan wanvoeding sal ly.

•             Babas wat geborsvoed word se breinselontwikkeling is beter.

•             Daar is ’n kleiner kans dat volwassenes wat as babas geborsvoed is, aan geestesversteurings sal ly.