Handhaaf van balans tussen beskerming en die benutting van SA se mees diverse vloedvlakte-ekostelsel

Marelize Santana -- Wed, 03/29/2017 - 11:43

Handhaaf balans tussen beskerming en benutting van SA se mees diverse vloedvlakte-ekostelsel

Duisende mense maak staat op die vloedvlakte van die benede-Phongolorivier in KwaZulu-Natal, en dieselfde geld vir miljoene visse, paddas, voëls, insekte en ander waterdiere.

Maar hoe kan hulle almal volhoubaar saam bestaan, en wat is nodig om die delikate balans van Suid-Afrika se grootste, rykste en mees diverse vloedvlakte-ekostelsel te handhaaf? Die antwoorde op hierdie vrae is die probleem wat ’n span Suid-Afrikaanse, Japannese en Belgiese waterbioloë, ekotoksikoloë, hidroloë en sosiale wetenskaplikes, gelei deur die Waternavorsingsgroep van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) wil oplos.“Die menslike bevolking het die afgelope drie dekades vanaf 20 000 tot 100 000 toegeneem, en die mense is uiters afhanklik van die natuurlike hulpbronne van die vloedvlakte,” sê prof Victor Wepener, ’n water-ekotoksikoloog en direkteur van die Skool vir Biologiese Wetenskappe op die kampus. “Ons taak is om te bestudeer hoe om daardie natuurlike hulpbronne op ’n volhoubare manier te benut.”


Asemrowende skoonheid van die Ndumo-sonsondergang.

Impak van ontwikkeling
Hierdie taak word nie makliker gemaak deur groter ontwikkeling nie. Tot met die laat 1960’s is die Phongolo-vloedvlakte elke jaar deur die natuurlike vloedsiklus van die Phongolarivier aangevul en gevoed. Die Pongolapoortdam is toe gebou om in landboubehoeftes te voorsien, en dit het die natuurlike eb en vloed verander. Kunsmatige vloedvrystelling het die ou natuurlike siklus vervang, en die vloedvlakte op talle subtiele maniere geraak.

“Die vloedvlakte het ongeveer 40 spesies vis en die panne is belangrike teelgebiede vir talle van hulle,” sê prof Nico Smit, ’n ekoloog en direkteur van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur. “Indien die vloedvrystelling nie groot genoeg is nie, word die vis in die panne vasgevang en kan nie weer in die rivier terugkom nie.” Die tydsberekening en volumes water wat uit die dam vrygestel word, is ook noodsaaklik vir die teling en oorlewing van die vis omdat die inkomende water die vloedvlaktestelsel uitspoel en voedingstowwe inbring.

Die menslike element is ’n kritieke faktor op die Phongolo-vloedvlakte. “Die welstand van die gemeenskap is ’n belangrike deel van die werk,” sê prof Wepener. “Dit is waar die sosiale wetenskaplikes op die span inkom. Hulle gee ons aanduidings van watter hulpbronne vir die mense van die vloedvlakte belangrik is, en of die gemeenskap die veranderinge in die ekostelsel se dienste en infrastruktuur oor die afgelope 10 jaar waargeneem het.”

“Die welstand van die gemeenskap kan beslis met die gesondheid van die ekostelsel verband hou,” sê hy. “As die mense nie gelukkig is nie, is dit moontlik dat dit is omdat daar nie na die omgewing gekyk word nie.”

DDT in die ekostelsel
Die evaluering van die ekologiese toestand van die vloedvlakte self is die werk van die ekoloë, ekotoksikoloë en bioloë, wat die afgelope ses jaar lank die vloedvlakte drie keer per per jaar besoek om vis-, padda- en voëlmonsters vir ’n ekostatusopname in te samel. “Ons kyk na die natuurlike ekologiese struktuur van die vloedvlakte, insluitend spesiediversiteit, asook die ekologiese gesondheid van die infrastruktuur,” sê prof Smit.

“Ekotoksikologie is deel hiervan omdat die Phongolo-vloedvlakte ’n hoërisikogebied vir malaria is,” voeg prof Wepener by. “Muskiete word beheer deur middel van binnenshuise residuele DDT-bespuiting, wat veronderstel is om nie in die omgewing vrygestel te word nie, maar DDT beland wel op ’n aantal maniere in die ekostelsel. Ons kyk na die moontlike oordrag van DDT na die omgewing en die impak daarvan op waterlewe en mense.”

Samewerking met buitelandse universiteite
Die DDT-ontledings word hanteer deur Japan se Hokkaido Universiteit, met wie die NWU ’n akademiese en navorsingsmemorandum van verstandhouding het. Dit sluit in die opleiding van die NWU se meestersgraad- en PhD-studente in die fyner besonderhede van ekotoksikologiese ontleding.

’n Ondersoek na die verwantskap tussen die rivier en die vloedvlakte-panne maak deel van ’n samewerkende projek met die universiteite van Leuven en Antwerpen uit. Die samewerking sluit in die opleiding van PhD-studente in ’n “toebroodjie”-program, wat beteken dat hulle aan die NWU sowel as aan die onderskeie Belgiese universiteite ’n graad sal behaal.

“Een van die wonderlikste aspekte van die projek is die uitruil van idees en studente met ons internasionale vennote in België en Japan, en die feit dat ons die geleentheid het om vir sewe tot agt jaar lank aan dieselfde ekostelsel ste werk,” sê prof Wepener.

 
Die droogte het ’n verwoestende uitwerking, soos gesien kan word in hierdie foto’s van die Nyamithi-pan en die Usuthurivier.