Groen behandeling van water sal gemeenskappe baat

Marelize Santana -- Thu, 11/22/2018 - 16:04

Groen behandeling van water sal gemeenskappe baat

Water is noodsaaklik vir lewende organismes, maar die gehalte van water is besig om as gevolg van bevolkingsgroei en omgewingsveranderings te verander. Kan ’n wonderplant dalk die antwoord wees?

Grond- en oppervlakwater dien as hoofbronne vir drinkwater in landelike en stedelike gebiede. Die beskikbaarheid van drinkwater is egter steeds ’n groot bekommernis.

Nitraat is een van die algemeenste besmetters van grondwater in landelike gebiede. Dit word in drinkwater gereguleer omdat ’n oormaat daarvan metemoglobinemie of “bloubabasiekte”, wat ’n dodelike bloedsiekte is, kan veroorsaak.

Hoewel nitraatvlakke wat babas aantas nie ’n direkte bedreiging vir ouer kinders en volwassenes inhou nie, dui dit wel op die moontlike teenwoordigheid van ander meer ernstige residensiële of landboukontaminante soos bakterieë of plaagdoders.

Tshepiso Moremedi, ’n kandidaat vir ’n PhD in chemie van die Noordwes-Universiteit (NWU), het vir haar meestersgraadnavorsing gemeenskappe in die plattelandse dorpies Seweding en Stadt gehelp om die gesondheidseffekte van nitraat in drinkwater te verstaan. Sy het ook die meganismes ondersoek om drinkwater te behandel met behulp van Moringa Oleifera (M. oleifera), ’n niegiftige tropiese plant wat regdeur Indië, Asië en Sub-Sahara-Afrika voorkom. Die plant het talle name, insluitende die drumstick, miracle of never die tree, en sy blare, peule en wortels het talle gebruike.

Wonderboom die antwoord?
Tshepiso het in haar navorsing groen sintese van yster-nanodeeltjies (FeNP’s) in die twee Mahikeng-gemeenskappe ondersoek deur M. oleifera-ekstrakte en hulle toepassings te gebruik om nitraat (NO3−) uit water te verwyder en ook na hulle antibakteriese aktiwiteit teen Escherichia coli (E.coli) gekyk.

E.coli-bakterieë is ’n fekale koliform wat universeel in rioolvuil voorkom en ’n belangrike rol in die sanitêre ontleding van water speel, wat die rede is waarom dit vir hierdie studie gekies is.

Sy het ’n groen sintetiese metode gebruik om FeNP’s met behulp van M. oleifera-ekstrakte vir die verwydering van NO3− uit oppervlak- en grondwater te sintetiseer. Daarbenewens is die antibakteriese aktiwiteit van gesintetiseerde FeNP’s teen E.coli ondersoek. Die resultate het getoon dat gesintetiseerde FeNP’s met behulp van M. oleifera-ekstrakte ’n positiewe uitwerking op die verwydering van NO3 – gehad het, en dat dit ook antibakteriese eienskappe getoon het.

Wetenskap en die natuur werk saam
Nanotegnologietegnieke is met die plantekstrakte gebruik, aangesien nanogestruktureerde stelsels die doeltreffendheid van plantekstrakte kan verbeter. Hierdie konsep van groen nanotegnologie kan ook die gebruik van giftige chemikalieë voorkom en die produksie van ongewenste of giftige produkte uitskakel.

M. oleifera was van belang omdat dit ideaal is vir gebruik in ontwikkelende lande, en al dekades lank as gevolg van die voedings- en antimikrobiese eienskappe daarvan gebruik word. Dit is ook nie moeilik om dit in droë toestande te kweek nie. Die groot voordeel daarvan is dat dit nie tegnologies moeilik is om te gebruik nie.

Volgens die jongste verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie maak 844 miljoen mense op betroubare waterbronne staat, en meer as 159 miljoen is van oppervlakwater afhanklik. Miljoene mense sterf jaarliks aan siektes soos diarree en cholera, wat deur water van ’n swak gehalte veroorsaak word. Hoë konsentrasies nitraat (NO3−) in water hou ’n groot bedreiging vir drinkwatervoorrade in en bevorder eutrofikasie.

Met die hulp van ’n wonderwerk van die natuur, gebruik Tshepiso chemie om die toekoms te betree en water van ’n beter watergehalte vir almal te verseker.

Tshepiso Moremedi, ʼn PhD chemie-kandidaat aan die NWU, bring baie ure met navorsing deur.

Die Moringa Oleifera (M. oleifera) boom.