Goeie kapitalisme, slegte kapitalisme: Die rol van besigheid in Suid-Afrika

Belinda Bantham -- Wed, 06/06/2018 - 11:12

Goeie kapitalisme, slegte kapitalisme: Die rol van besigheid in Suid-Afrika

Met Suid-Afrika wat polities gesproke op die herstelpad is en president Ramaphosa wat ’n nuwe begin belowe, is talle mense versigtig optimisties oor die vooruitsigte van ’n ekonomiese ommeswaai in die land.

Met die vooruitsig van ’n beter toekoms is dit egter belangrik om die verlede te onthou en tersaaklike lesse daaruit te leer, aangesien die meeste van Suid-Afrika se grootste uitdagings deesdae daarheen teruggevoer kan word.

Bogenoemde is ’n herhalende tema in die nuwe boek, Good Capitalism, Bad CapitalismThe Role of Business in South Africa, geskryf deur die bekende ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU)prof Raymond Parsons, in samewerking met Ali Parry.

Soos die titel van die boek aandui, is Suid-Afrika ’n land van teenstrydighede, waar etiese leierskap (in die openbare én privaat sektor) toenemend deur opportunisme en gierigheid oorskadu word. Die land is gevolglik meer verdeeld as ooit tevore en spanning neem toe. Die ongelykheid wat die samelewing deurdring, moet op nuwe en kragtige maniere aangevat word sodat die land se onderdrukkende en pynlike verlede nie op die ou einde homself herhaal nie. Hoë vlakke van werkloosheid, armoede en ongelykheid in Suid-Afrika beteken ook dat nie genoeg mense ’n aandeel in die ekonomie het om te in stand te hou en te verdedig nie.

By die bekendstelling van die boek in Johannesburg op 29 Mei 2018 het prof Parsons gesê: “Ons kan nie net normaalweg voortgaan in Suid-Afrika nie. Die sakewêreld moet ’n baie groter rol speel om aan ons nasionale agenda vorm te gee, veral deur ’n paar werklik kreatiewe oplossings vir die land se uitdagings te bied.”

Soos die boek toon, is die sakewêreld die vernaamste aandrywer van die ekonomie, en tog is dit al vir jare lank ’n passasier as dit by ekonomiese beleidmaking kom. Dit is duidelik dat ’n nuwe maatskaplike ooreenkoms tussen die regering, die sakewêreld en die arbeidsomgewing nodig is sodat kollektiewe oplossings geskep kan word om die aanhoudende probleme wat die land teister, te hanteer. Sterk ekonomiese prestasie steun swaar op doeltreffende en verantwoordelike instellings, het prof Parsons beklemtoon. ’n Sterk institusionele raamwerk en beleidsekerheid is noodsaaklik as die land broodnodige beleggings wil lok en die ekonomie na die hoogste rat moet oorskakel.

Een van die faktore wat tot die verwaterde invloed van die privaat sektor in ekonomiese beleidmaking en beplanning bydra, is dat die georganiseerde sakesektor – wat deur sakekamers en sakeverenigings (insluitend toporganisasies soos BUSA en BLSA) verteenwoordig word – oor jare heen toenemend gefragmenteerd geraak het. Eerder as om ’n kollektiewe “stem” vir die sakewêreld te vorm, met ’n gemeenskaplike mandaat om hulle eie lede en die regering verantwoordelik te hou, ding georganiseerde sake-instellings dikwels met mekaar mee en stuur ’n verwarrende reeks boodskappe aan die mark.

Wat ons het, is ’n “kakofonie van akronieme”. Duplisering van aktiwiteite lei tot kwynende ledegetalle per instelling en verswak hulle vermoë om doeltreffende voorstanders te wees vir die groepe wat tradisioneel deur hulle bedien is.

 “Sonder ’n sterk stem vir die sakewêreld is dit nie moontlik om beleid te beïnvloed of te rig nie,” het prof Parsons gesê. Dit lei ook daartoe dat aanspreeklikheid – een van die hoekstene van ’n gesonde demokrasie – agterweë bly.

’n Voormalige Minister van Finansies, Trevor Manuel, wat ’n gasspreker by die boekbekendstelling was, het opgemerk: “Ons het geleef deur ’n dekade waarin mense ongestraf, sonder gevolge kon optree. Ons moet die konsep van gevolge vir slegte praktyke en gewoontes nuwe lewe gee.”

Die grondoorsaak van talle van Suid-Afrika se probleme – wat, kan daar aangevoer word, vrugbare teelaarde in die kapitalistiese stelsel vind – kan nie buite rekening gelaat word nie.

“Kapitalisme het aan ons matelose welvaart gegee,” het mnr Manuel gesê, "maar dit het die vernaamste voordeel van welvaart, die konsep van genoeg hê, weggeneem.” ’n Stortvloed skandale in die openbare en privaat sektor waarby Eskom, South African Airways, Steinhoff en talle ander betrokke is, is bewys hiervan. En hoewel hierdie hoëprofielsake rede tot kommer bied, is daar volgens hom eweveel rede tot kommer oor die anderkant van die verhaal: dat groot dele van die bevolking óf werkloos is, óf lone verdien wat baie ver onder die erkende minimum vlak is. “Waarom het ons toegelaat dat dit gebeur?”

Mnr Manuel het bygevoeg dat die boek, ongeag mense se spesifieke sienings oor die meriete of euwels van kapitalisme en hoe Suid-Afrika se ekonomiese herstel moet plaasvind, ’n waardevolle bydrae maak omdat dit ’n uiters noodsaaklike debat oor “wie ons is, wat ons moet doen en wat die oplossing vir Suid-Afrika is” aanvoor.

Good Capitalism, Bad Capitalism: The Role of Business in South Africa (uitegegee deur Jacana Media) is landswyd by Exclusive Books beskikbaar (bestel aanlyn by http://www.loot.co.za).

 Prof Raymond  Parsons   is   die     skrywer   van  Good Capitalism, Bad CapitalismThe Role of Business in South Africa.