Gereed om hulle doelwitte te bereik

Belinda Bantham -- Tue, 08/20/2019 - 11:05

Gereed om hulle doelwitte te bereik

Een van die grootste prioriteite van die Noordwes-Universiteit (NWU) is om by ons plaaslike gemeenskappe betrokke te wees. Nog so ’n inisiatief van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe is om die Ten Stars-sokkerklub in Potchefstroom te ondersteun en tot die klub se volhoubare ontwikkeling by te dra.

Hierdie nuwe projek het dit moontlik gemaak om splinternuwe sokkertoerusting, geborg deur die fakulteit, aan die klublede te oorhandig.

John Moseki Seitlholo, ’n bode van beroep by die NWU se Skool vir Menslike Bewegingskunde en die hoofafrigter, het die klub in 2000 gestig. Hy het dit “Ten Stars” genoem omdat sy doelwit was om jong kinders in toekomstige sokkersterre te omskep en hulle te help om hulle lewens te verbeter.

’n Totaal van 66 spelers speel tans vir die span in drie verskillende afdelings, naamlik onder 15, onder 19 en onder 21.

Die Ten Stars-sokkerklub was in 2016 een van die laaste 32 spanne wat aan die Nedbank-beker deelgeneem het, en was die enigste span uit die Dr Kenneth Kaunda-streek. In 2010 was hulle die eerste span om die Madiba-beker te wen.

Sokker word die pragtige spel (beautiful game) genoem, maar vir hierdie klub is hierdie pragtige spel nie altyd sonder uitdagings nie. “Ons het nie altyd die nodige befondsing nie, veral nie wanneer ons moet reis om teen ander sokkerspanne te speel nie. Ek moet dikwels van huis tot huis gaan om vir donasies te vra,” sê John.

Nou het die Fakulteit Gesondheidswetenskappe ingetree om iets aan die gemeenskap terug te gee.

Volgens prof Hans de Ridder, direkteur van die Skool vir Menslike Bewegingskunde, kom die meeste van die kinders in die klub uit ’n arm agtergrond en het nie die middele om hulle eie sokkertoerusting aan te skaf nie.

“Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe is bevoorreg om te kan help om ’n bydrae tot John se projek te lewer. Ons het hierdie inisiatief as ’n amptelike gemeenskapsbetrokkenheidsprojek geregistreer wat ons in staat sal stel om die broodnodige hulp ten opsigte van befondsing, kleredrag, toerusting, vervoer en algemene welstand van hierdie spelers te verleen,” sê prof De Ridder.

Die klub se plan vir die komende sokkerseisoen is om hard te werk om hulle droom te bewaarheid om in die Vodacom-liga te speel. “Ek is so bly dat die NWU die moeite gedoen het om ons infrastruktuur, ondersteuningstruktuur en kundigheid te benut om hierdie spelers verder in goed afgeronde, passievolle jongmense te ontwikkel,” sê John.

Die formele betrokkenheid van die NWU sal die platform skep waar ons plaaslike jongmense op ’n volhoubare basis by persoonlike sportontwikkeling kan baat.

 

Die Ten Stars-sokkerklub van Ikageng, Potchefstroom. Eagi, die NWU se maskot, was baie opgewonde om die nuwe toerusting aan die klub te oorhandig.