Gegradueerdes werk saam om voornemende studente te help

Belinda Bantham -- Mon, 12/10/2018 - 15:35

Gegradueerdes werk saam om voornemende studente te help

Terwyl die meeste studente hierdie feestyd by die huis sit en ontspan, gaan ’n aantal gegradueerdes van die jeugbemagtigingsorganisasie (Youth Empowerment Organisation (YEO)) hulle deeltjie doen om minderbevoorregtes te help.


Vanaf 1 Desember tot aan die einde van Januarie 2019 gaan gegradueerdes in hulle togas by verskillende kruisings in Potchefstroom, Pretoria en Polokwane staan en vir motoriste vra om donasies te gee. Dit is deel van die organisasie se Thusangwanageno-inisiatief (help jou medemens-inisiatief).

Die donasies wat ingesamel word, sal help om die registrasie- en klasgeld te betaal van voornemende studente wat by enige Suid-Afrikaanse universiteit aanvaar is.

Die YEO is die breinkind van John Molepo, ’n dosent aan die Skool vir Regeringstudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

John sê dat dit belangrik is om voornemende studente te help om hulle drome te bereik. “Van die studente kom uit minderbevoorregte agtergronde en kan nie bekostig om registrasie- en klasgeld te betaal nie, terwyl ander steeds die universiteite groot bedrae geld skuld,” sê John. “Ons organisasie het die behoefte geïdentifiseer om sulke individue te help.”

Die doel van die Thusangwanageno-inisiatief is om meer as 200 studente in 2019 te help. Studente sal ook met die nodige skryfbehoeftes gehelp word om hulle akademiese reis mee te begin. Gereelde werkswinkels sal gehou word om te verseker dat hulle ondersteun word en deurgaans aangemoedig word om gemotiveerd te bly en uiteindelike sukses te verseker.

Thusangwanageno het hierdie jaar 108 studente met registrasiegeld gehelp, en ander om hulle uitstaande universiteitsgelde te betaal.  

John vra vir vrywilligers om deel van hierdie inisiatief te word en ook donasies te gee.

Studente word versoek om www.youthempowermentsa.co.za te besoek om vir hulp aansoek te doen. John kan bereik word by John.Molepo@nwu.ac.za of 0767502300.


Die NWU se John Molepo vra motoriste vir donasies vir die Thusangwanageno-inisiatief.