Gauteng Biotech Fundi-toekenning gaan aan NWU-navorser

Belinda Bantham -- Tue, 05/08/2018 - 12:38

Gauteng Biotech Fundi-toekenning gaan aan NWU-navorser

Kundige, bobaas, gesaghebbende, professionele persoon, spesialis en genie… dit is almal sinonieme vir die unieke Suid-Afrikaanse woord “fundi”, wat die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof Anne Grobler, ontvanger van die Biotech Fundi-toekenning van The Innovation Hub Management Company paslik beskryf.

Prof Anne, direkteur van die DWT/NWU Prekliniese Platform op die kampus in Potchefstroom, is vereer in die navorsingskategorie van die toekennings wat organisasies en individue erken wat ’n betekenisvolle impak op die biotegnologiesektor in Gauteng maak.

Die jaarlikse Biotech Fundi-toekennings het ontstaan as gesamentlike inisiatief tussen die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDARD) en The Innovation Hub Management Company.

“Die Gauteng-provinsie moet gelukgewens word met hulle ruimhartige gebaar om oor provinsiale grense te reik, veral aangesien ons vennote van verskillende provinsies en lande af kom,” sê prof Anne met verwysing na die erkenning.

Biotegnologie aan die voorpunt

Biotegnologie handel oor die gebruik van biologiese stelsels (lewende selle of dele van selle) om splinternuwe produkte te maak wat kommersieel lewensvatbaar is.

Prof Anne is vereer vir haar betrokkenheid by die stigting van twee biotegnologiemaatskappye, naamlik HANKS TB Diagnostics en die Pheroid Kluster-ontwikkelingsnywerheid. 

Pheroid is ’n plaaslike leweringstegnologie. Die Pheroid Kluster-ontwikkelingsnywerheid se doel is om biotegnologiegebaseerde vervaardiging van Pheroid-gebaseerde produkte in Noordwes te vestig, en dit sluit sewe handelsvennote in die farmaseutiese, kosmetiek-, welstands- en landbousektor in. Vir meer inligting oor die Pheroid Kluster, besoek asseblief www.pheroidcluster.com.  

HANKS TB Diagnostics is ’n newemaatskappy van ’n projek wat deur die NWU in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, die Universiteit van Nebraska in die Verenigde State en BGM Biopharma geïnisieer is. Die fokus van die maatskappy is op die ontwikkeling van ’n akkurate, bekostigbare, vinnige en mobiele diagnostiese toets om aktiewe tuberkulose (TB) akkuraat te diagnoseer en te moniteer.

 

Die toets is gegrond op ’n platformtegnologie wat bestaan uit ’n spesiaal-ontwerpte verbruikbare toetsstel en verwerkingshardeware wat die ontleding van monsters moontlik maak. Die platformtegnologie kan tans binne 90 minute teen ’n koste van US$5 en met ’n sensitiwiteit van 95% en spesifisiteit van 94%, insluitende lewende/dooie organismedifferensiasie, aktiewe TB vanaf ’n sputummonster diagnoseer.  

Wat die toets ook besonders maak, is dat dit die vermoë het om middelweerstandigheid te toets nadat ’n aanvanklike toets gedoen is. Die toetsalgoritme het beduidende kostebesparende implikasies, en ’n middelweerstandigheid-toetsstel vir die diagnose van multimiddelweerstandigheid (MDR) en uiterste middelweerstandigheid (XDR) word tans ontwikkel.

The Innovation Hub Management Company (TIHMC) het prof Anne Grobler met ’n Biotech Fundi-toekenning vereer.