EWP Potchefstroom: bemagtig vroulike entrepreneurs om te floreer

Belinda Bantham -- Mon, 05/13/2019 - 15:48

EWP Potchefstroom: bemagtig vroulike entrepreneurs om te floreer

As jy in Potchefstroom woon en jouself as ’n “fempreneur” beskou, moet jy nie hierdie geleentheid van ’n leeftyd misloop nie! Die Noordwes-Universiteit (NWU) se innoverende entrepreneurskapsontwikkeling, die Ondernemende Vroue-program (EWP), kom Potchefstroom toe.

Dit is hierdie jaar die sewende keer dat hierdie besondere program deur die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) aangebied word, en dit is nou ook op die kampus in Potchefstroom beskikbaar.

Die program, ter waarde van R25 000, word aan geselekteerde vroue-entrepreneurs aangebied vir slegs ’n verbintenisdeposito van R1 500. Al wat jy moet doen, is om jou belangstelling aan te dui deur die bhive EDC by 016 910 3393 te skakel, of ’n e-pos aan incubation@nwu.ac.za te stuur.

Die bhive EDC is ’n entrepreneuriese middelpunt in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Meer oor die EWP

Die program het tot dusver byna 100 suksesvolle vroulike entrepreneurs regoor Vanderbijlpark/Vereeniging, Sasolburg en Mahikeng bemagtig. Dit verteenwoordig die NWU se bydrae tot die realisering van die uitkomste van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) deur ’n kultuur van entrepreneurskap onder Suid-Afrikaners te vestig. Die NOP wil teen 2030 11 miljoen werksgeleenthede en entrepreneursmoontlikhede – veral onder vroue – skep, en bied lewensvatbare en volhoubare intervensie ten opsigte van die skep van werk.

Beginner- vroulike entrepreneurs word deur hierdie program bemagtig om nie net hulle besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om aktief tot die plaaslike en nasionale ekonomie by te dra.

Die program het oor die afgelope sewe jaar vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos byvoorbeeld toep-ontwikkeling, spyseniering, die konstruksiebedryf, mode-ontwerp, binnenshuise versiering, asook instandhoudingsbestuur. Ander het unieke produkte ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende nismarkte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die verwerking van plastieksakke in ontwerpersmatte vir die toerismebedryf, en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

Verskeie van die deelnemers aan hierdie program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en wys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

Volgens Leonie Greyling, die EWP-koördineerder, lê die sukses van die program daarin dat dit intydse sake-ondersteuningsdienste gee aan vroue wat hulle eie ondernemings wil vestig. Deelnemers word deur ’n omvattende kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer.

Tydens die proses word vroue nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk nie, maar ontvang ook mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige lede van die akademie. “Die program verskaf aan vroue die geleentheid om hulle entrepreneurspogings vryelik te ondersoek, terwyl hulle terselfdertyd die voordele van gestruktureerde leer deur werkswinkels en groepgesentreerde leeraktiwiteite geniet,” verduidelik Leonie.

* Die finale keuring vir die deelname van entrepreneurs word op 24 Junie 2019 gemaak tydens die kamp waar idees gegenereer moet word en wat deur die Fakulteit Ingenieurswese op die kampus in Potchefstroom aangebied sal word.