Eskom is steeds ʼn meulsteen om die Suid-Afrikaanse ekonomie se nek

Marelize Santana -- Wed, 07/31/2019 - 08:34

Eskom is steeds ʼn meulsteen om die Suid-Afrikaanse ekonomie se nek

Nog ’n reddingsboei vir die platsakstaatsonderneming Eskom gaan droewige gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie hê. So waarsku Lerato Mothibi en prof Danie Meyer, ekonomiese kundiges by die Noordwes-Universiteit (NWU).

Die risikograderingsagentskappe Fitch en Moody’s het onlangs gewaarsku dat die nasionale elektrisiteitsvoorsiener ’n ramp in die gesig staar terwyl ’n tweede multimiljardrand-reddingsboei van R69 miljard op pad is. Dit beteken dat daar oor die afgelope paar jaar ’n totaal van R130 miljard aan Eskom toegewys is.

Verhoogde belastings en elektrisiteitspryse wag op verbruikers, en potensiële beleggers sal verder deur die land se dalende soewereine gradering afgeskrik word.  

Moody’s is die enigste een van die drie groot graderingsagentskappe wat Suid-Afrika nog nie tot subbelegging- of rommelstatus afgegradeer het nie. Indien hulle sou besluit om dit te doen, kan Suid-Afrika van die Citi World Government Board-indeks verwyder word.

Dit kan tot verhoogde skuldkoste en verdere druk op die wisselkoers lei. In die lig daarvan dat daar verwag is dat Suid-Afrika se bruto leningskuld met R2,8 triljoen gaan styg, wat op 56,2% van die BBP vir 2019/20 sal neerkom, is dit duidelik waarom daar tot so ’n stap oorgegaan kan word.

Intussen hou Suid-Afrika se leningsvereistes aan om as gevolg van ’n laer inkomste-insameling tot R239,5 miljard te styg. Daar word verwag dat die begrotingstekort sal toeneem, aangesien die 2019-begrotingsoorsig aandui dat die begrotingstekort in die boekjaar van 2019/20 met 4,5% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) sal toeneem.

’n Afgradering deur Moody’s kan Suid-Afrika met ’n uitvloei van kapitaal, ’n groter onbestendigheid in die wisselkoers, en ’n depresiërende rand laat, wat tot ’n styging in inflasie sal lei. ’n Afgradering kan ook beteken dat Suid-Afrika se skulddienskoste sal toeneem, wat daartoe kan lei dat die land minder inkomste sal hê om aan maatskaplike inisiatiewe en verbeterings aan infrastruktuur te bestee.

“Uiteindelik, as alle faktore wat genoem is in ag geneem word, is ’n afgradering deur Moody’s in die komende maande ’n groot moontlikheid. Besluite van die graderingsagentskappe het onlangs reeds die rand beïnvloed – dit het binne twee dat van R13,80 tot R14,30 teenoor die dollar gedepresieer,” sê die span.

“Eskom is nie die enigste onderneming in staatsbesit wat tot die land se groterwordende fiskale tekort bydra nie. Transnet, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, DENEL en die SABC word ook as sondebokke beskou.”

                           
Prof Danie Meyer                                                       Lerato Mothibi

#NWUVroue