Ervaar die afstand

Belinda Bantham -- Fri, 06/19/2020 - 12:27

Ervaar die afstand

Wie sou ooit kon raai dat afstandsonderrig die kompas van 2020 sou word! Dit is nie net die pad wat studente sowel as dosente moet loop nie, maar dit maak nuwe horisonne oop met oneindige moontlikhede en deurlopende potensiaal in die wêreld van tegnologiese kommunikasie.

Covid-19 is die nuwe gonswoord, en die groot C het binne ’n paar dae die onderwerp van talle (indien nie alle nie) gesprekke geword. Hierdie C herinner ons skielik nie meer aan die somervakansie nie, maar vul ons eerder met ’n nuwe vrees wat ons nog nooit tevore ervaar het nie.

Dr Nelda Mouton, ’n opvoedkundige by die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) met uitvoerige ervaring in opvoedkundekwessies, het ’n paar voorstelle. “Kom ons verander dit in die C van visie, van moontlikhede, van nuwe strategiese denke in ’n nuwe ‘abnormale’ wêreld, wat skielik die nuwe normaal geword het.  Eina …”

“Vanuit ’n Besigheidskool-perspektief is dit ’n nuwe, klipperige pad met potensiaal. Ons kan nou vreesloos nuwe tegnologieë by ons aanlyn pogings inbring. Die dae toe dosente net op lesings gefokus het, is iets van die verlede. Ons bevind onsself nou in ’n wêreld waarin ons in ’n baie vinnige, tegnologiese omgewing is waarin konstruktivisme nuwe en meer betekenis kry. Binne ons nuutgeskepte omgewing het die student-tegnologie-dosent-rol op ’n konstruktiewe manier ’n kognitiewe teenwoordigheid geskep wat in talle vorms van kommunikasie gegrond is.”

Volgens dr Mouton bou dosente se konstruktivistiese denke voort op konnektivisme, sosiale konstruktivisme en sosiokulturalisme. Hierdie bewustheid skep ’n sosiale teenwoordigheid wat ons dwing om elke enkele student se persoonlikheid en agtergrond in te sluit.”

Die waarde van taal, samewerking en interaksie dra nou meer as ooit tevore direk tot die aktiewe rol van leer by. Dit maak nuwe moontlikhede oop wat heeltemal verskil van die aangesig-tot-aangesig-sessies in die klaskamer waar studente die energie verskaf vir die manier waarop ons onderrig gee. Daarteenoor is die afstandklaskamer ’n baie eensame plek vir beide die dosent en die student, voeg sy by, en hierdie nuwe “virtuele” ruimte kan wees soos om Pandora se kis oop te maak, aangesien die gevoel van isolasie die dosent kan oorweldig.

“Studente moet ook hulle ingesteldheid verander, aangesien hulle instinktief op selfgereguleerde leervaardighede moet fokus. Ons as dosente moet die studente konstruktief help om hierdie vaardighede te verwerf waarmee hulle deurlopend uitgedaag word om by kwantitatiewe redenasie en hoërorde-denkvaardighede betrokke te raak. Met hierdie vaardighede word hulle ook gelei om hulle argumente te evalueer om hulle redenasies te staaf. Dit sal student-dosent-sukses tot ’n mate waarborg. As ’n afstandsdosent moet ’n mens op samewerking fokus waarin groepinteraksie gesosialiseerde leer kan bevorder, aangesien dit die basis kan vorm om studente te motiveer om te leer en leertevredenheid te bevorder.”

Dr Mouton sê dat ’n omgewing geskep kan word waar daar wedersydse vertroue, kennis en respek is. “Vanuit ’n dosent se oogpunt kan dit verkry word deur ’n virtuele ruimte te skep om die student te ontmoet. Interaksie met ander studente uit uiteenlopende sosiokulturele agtergronde is ’n belangrike element in die oorweging van studentebetrokkenheid. Virtuele interaksie met ander studente is belangrik, aangesien daar geredeneer kan word dat as dosente hulle studente ken, dit kan help om studente te motiveer en selfdissipline te openbaar om sukses te behaal.”

Binne hierdie afstandsomgewing is kennis van vervlegde leer, sinchroniese en niesinchroniese metodes, ’n omgekeerdeklaskamer-benadering, webgebaseerde leer en projekgebaseerde leer die sleutels wat studentepotensiaal en -prestasie kan ontsluit. Die dosent moet egter in gedagte hou dat kommunikasie met studente tydig moet wees en dat die vertragingsfaktor studenteleer negatief kan beïnvloed. Op grond van bogenoemde het dr Mouton ’n vyfstapraamwerk saamgestel om afstandsdosente in hierdie virtuele omgewing van hulp te wees.

 Stap 1: Dink konstruktief

Voordat jy jou module beplan, moet jy aan jou leerontwerp dink waarin sosiale, tegnologiese en didaktiese uitdagings as interafhanklike dimensies van ’n suksesvolle leerervaring erken word.

Stap 2: Beplan die raamwerk van jou module

Die leeromgewing wat jy moet skep, behoort studente te motiveer en betekenisvolle en lonende leer te fasiliteer.

Stap 3: Samewerking

Gedurende hierdie stap moet jy nadink oor jou assesseringstrategieë, die interaksie waarop jy wil fokus, oor groepaktiwiteite, werkopdragte en spesifieke huisreëls wat studente moet navolg. Jy moet hier vir die studente ’n padkaart vir die semester verskaf wat al jou aktiwiteite, opdragte en formele en informele geleenthede vir ontmoetings bevat.

Stap 4: Tegnologie

Besluit op die tegnologie wat jy gaan gebruik om jou vir hierdie semester te help. Ek stel een in elke kategorie voor:

  1. Die platform wat deur die instelling gebruik word, byvoorbeeld SAKAI, Moodle

Wanneer jy jou blad op die platform opstel, voeg slegs vlaggies (tabs) by wat die studente sal gebruik, en maak dit slegs vir studente sigbaar wanneer daar inligting in daardie vlaggies is. Vlaggies wat aanbeveel word, sluit in Aankondigings, Studiegids, Hulpbronne, Opdragte, Punteboek en Kletskamer.

  1. ’n Videohulpbronplatform, byvoorbeeld Panopto

Daar word aanbeveel dat jy regdeur dieselfde videohulpbronplatform gebruik. Jy moet jou video op die platform van die instelling kan inbed. Dit moet maklik en kostedoeltreffend wees om die platform af te laai.

  1. ’n Ontmoetingsplatform, byvoorbeeld Zoom, Skype of Microsoft Teams

Jy kan al jou studente nooi om ’n informele gesprek op hierdie platform te voer.  Die idee is dat studente mekaar moet ontmoet, groepe begin vorm en inligting uitruil. Beplan soortgelyke ontmoetings twee of drie keer per jaar net om deurlopende konnektiwiteit met studente te skep. Dosente moet kennis neem van die feit dat aanlyn groepaktiwiteite nie noodwendig op samewerkende interaksie of leer uitloop nie.

  1. ’n Sosialemediaplatform, byvoorbeeld WhatsApp, Facebook, ChatBot

Op hierdie stadium sal studente met mekaar gesels en sal gemakliker voel om in groepe te werk. Daar word voorgestel dat die groepe in byvoorbeeld WhatsApp opgestel word om verdere kommunikasie en werkinteraksie te stimuleer. Groepe behoort uit hoogstens drie tot sewe lede te bestaan.

Stap 5: Inleidingsvideo

’n Voorstel is dat die dosent ’n video (van nie langer as ses minute nie) opneem waarin die dosent hulleself voorstel, ’n oorsig oor die module gee en die protokol vir verdere besprekings verskaf.

Ten slotte, afstands- (aanlyn) onderrig is vir almal ’n nuwe uitdaging. “Ek kan met groot sekerheid sê dat die NWU Besigheidskool die impak en potensiaal van hierdie nuwe omgewing aangegryp het en dat ons eindelose moontlikhede in ons nuutgevonde ‘normale’ wêreld tegemoet gaan.”

 

Dr Nelda Mouton