Duits aan NWU bekom lisensie om gevorderde eksamen van Goethe-Instituut af te neem

Belinda Bantham -- Tue, 09/12/2017 - 12:39

Duits aan NWU bekom lisensie om gevorderde eksamen van Goethe-Instituut af te neem

Die vakgroep Duits aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het pas ʼn lisensie bekom om intermediêre en gevorderde eksamens van die Goethe-Instituut af te neem.

ʼn Amptelike sertifikaat van die Goethe-Instituut in Duitsland word uitgereik indien kandidate die eksamen suksesvol aflê.

Me Gerda Wittmann van dié vakgroep en nasionale koördineerder van die eksamen sê enigiemand wat daarin belangstel om hul Duitse taalvermoë te laat assesseer kan die eksamens aflê. Die eksamen bestaan uit vier dele – lees, skryf, luister en praat.

Die eksamens is vir studente en mense wat voorbereidende kursusse wil doen om by ʼn Duitse universiteit toegelaat te word of wat dalk in Duitsland wil woon en werk. Die sertifikate (B1, B2 of C1) is ʼn voorvereiste vir ʼn verskeidenheid beurse of toegang tot die Duitse tersiêre landskap.

Gerda sê die C1-eksamen is die meer gevorderde een wat meeste Duitse universiteite vereis indien iemand daar in Duits wil studeer.

Die eksamens vind vanjaar in Oktober plaas en die NWU het drie gekwalifiseerde eksamineerders wat die eksamen wêreldwyd mag afneem. Die koste beloop R1 320 vir die B1-sertifikaat, R1 430 vir die B2 en R1 650 vir die C1-sertifikaat.

Vir meer inligting kontak Gerda Wittmann by 018 299 1560 of gerda.wittmann@nwu.ac.za

Foto: Gerda Wittmann


Gerda Wittmann