Dowe afstandstudent ontvang Gr R-diploma

Belinda Bantham -- Tue, 04/17/2018 - 13:42

Dowe afstandstudent ontvang Gr R-diploma

“Ek het nooit gedink ek sou ooit by ʼn universiteit uitkom nie, wat nog te sê ʼn kwalifikasie verwerf.” Die is die woorde van Lizette Fitzpatrick wat onlangs haar Graad R-diploma aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf het. Sy is die heel eerste dowe persoon wat dié kwalifikasie deur middel van afstandsonderrig verwerf het.

Tydens haar diplomaplegtigheid op die NWU se kampus in Potchefstroom het haar ma, Marelize Gouws, gehelp om die onderhoud vir die artikel te tolk.

Lizette, ‘n 30-jarige ma van twee klein woelwaters, sê sy is nie een vir stilsit nie. Sy het ná skool ʼn kwalifikasie by ʼn privaatkollege verwerf om onder meer huisplanne op te trek. “Ek was nie as dowe mens gemaklik tussen horendes in ʼn kantooropset nie, en ek kon nie langer stilsit en werk nie. Ná ʼn jaar het sy bedank en die personeel van die Transoranje Skool vir Dowes se kinders bedags opgepas.

Dit is dieselfde skool waar sy haar skoolloopbaan in 2007 voltooi het en waar haar ma al die afgelope 20 jaar skoolhou. Hulle het op die perseel van Transoranje gewoon.

Terwyl sy na die kinders gekyk het, het Lizette in dié tyd besluit dit is wat sy graag wil doen, en het met die hulp van haar ma begin navraag doen oor waar sy in vroeë kinderontwikkeling kan studeer.

Marelize sê die NWU se afstandleerprogram was die enigste wat bereid was om haar te help. Lizette moes eers ʼn oorbruggingskursus doen, omdat die matriekstandaard van ʼn skool vir dowes nie universiteitsvrystelling bied nie.

Lizette sê sy is besonder dankbaar vir die hulp van Susan Greyling, haar programleier by die NWU se afdeling vir onderrigbestuur en leierskap. Sy het haar studies in 2015 begin en kon die diploma binne drie jaar voltooi.

“Ek is veral ook dankbaar vir my ma se hulp, want sy moes baie van die geskrewe studiemateriaal vir my vertolk. Die geskrewe en gesproke taal op universiteitsvlak is vir dowes moeilik verstaanbaar.”

Marelize sê dit was vir haar ʼn groot voorreg om haar dogter met haar studies by te staan.

“Ek werk sedert 2011 by St Vincent Skool vir Dowes in Johannesburg en kan nie wag om na ouer kinders om te sien nie, want dan kan ek alles wat ek geleer het, kan begin toepas.”

Lizette is getroud met Stephen, ook ʼn dowe persoon. Sy sê die dowe gemeenskap is baie klein en hulle het mekaar só leer ken.

Hoewel albei hulle kinders, Ruari (6) en Caitlin (2), kan hoor, praat hulle reeds vlot gebaretaal omdat hulle reeds van kleins af met gebare met hulle ouers moes kommunikeer.

 

Marelize Gouws en haar dogter, Lizette Fitzpatrick, tydens haar diplomaplegtigheid by die NWU.