Dit is weer tyd vir die Juta-NWU-skynverhore

Belinda Bantham -- Mon, 07/30/2018 - 15:29

Dit is weer tyd vir die Juta-NWU-skynverhore

Die opwindende jaarlikse skynverhore van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat met die ondersteuning van Juta deur die Fakulteit Regte aangebied word, vind op 17 en 18 Augustus by die Mahikeng Hoë Hof plaas.

Soos in vorige jare sal deelnemers aan hierdie jaar se kompetisie van al drie die NWU se kampusse kom en om die titel as Juta-NWU-skynverhoorwenners meeding.

Hierdie uiters gewilde kompetisie gee nie net aan studente die geleentheid om hulle regskundigheid in die praktyk toe te pas nie, maar verskaf ook vermaaklike “hofdrama”, met klaers, aangeklaagdes, ’n landdros en bevoegde spanne aanklaers en prokureurs. Die feit dat hierdie jaar se kompetisie by die Hoë Hof plaasvind, gee dit selfs meer prestige, aangesien dit die deelnemers in een van die land se mees geëerde regsinstellings plaas.

Die wenspanne sal pryse ter waarde van R62 000 ontvang. Dit is ’n groot aansporing vir almal wat deelneem.

Verskeie spanne met vier studente elk sal in ’n “kriminele saak” teenoor mekaar te staan kom en onderskeidelik die Verdediging en die Staat verteenwoordig. Semifinaliste sal reeds op 15 Augustus vir ’n tweedag-werkswinkel byeenkom. Dit sal studente help om vir die semifinaal voor te berei en hulle die geleentheid gee om mekaar te leer ken.

“Dit is die enigste kompetisie van hierdie aard in die land waar tweede- en derdejaar-regstudente teen mekaar deelneem,” sê adv. René Koraan, dosent in die Fakulteit Regte op die kampus in Potchefstroom, wie se geesteskind hierdie kompetisie is.

Dit is ’n wonderlike geleentheid om die NWU se tweede- en derdejaarstudente in die “hof” in aksie te sien en hulle regskundigheid ten toon te stel. As jy die opwindende hofverrigtinge wil bywoon, skakel adv. René Koraan (Potchefstroom) by 018 299 4287, of stuur ’n e-pos aan rene.koraan@nwu.ac.za.