Dis tyd om erkenning aan vullissmouse te gee

Marelize Santana -- Wed, 03/29/2017 - 16:28

Dis tyd om erkenning aan vullissmouse te gee

Hulle is ’n algemene gesig in Suid-Afrika terwyl hulle deur vullishope krap en blikke in voorstede, besigheids- en nywerheidsdistrikte deursoek. En tog is daar min bekend oor die rol wat vullissmouse in die ekonomie speel.

Met sy oog op die identifikasie van faktore wat vullissmouse in staat stel om 'n bestaan te maak, het professor Derick Blaauw van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) deel uitgemaak van die interdissiplinêre navorsingspan wat prof Rinie Schenck van die Universiteit van die Wes-Kaap en dr Kotie Viljoen van die Universiteit van Johannesburg ingesluit het.

Die navorsingspan het begin deur ’n sistematiese studie van die bestaande navorsing en literatuur oor vullissmouse in Suid-Afrika te doen. Hulle doel was om te bepaal watter navorsing reeds gedoen is om die gaping tussen die formele en informele ekonomie ten opsigte van vullissmouse te verklein, en watter faktore kan help om die funksionering van die land se vullissmouse te bevorder of te fasiliteer.


Vullissmouse is ’n permanente kenmerk van die Suid-Afrikaanse informele ekonomie.

In die eerste kwartaal van 2014 was daar 2 446 miljoen mense, of 12,3% van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag van ongeveer 20 miljoen, wat probeer het om ’n bestaan in die informele ekonomie te maak. Dit sluit die landbousektor uit. Aangesien Suid-Afrika een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld het (25,2%), moet meer mense teoreties die informele ekonomie kan betree. In Indië maak ongeveer 90% van die bevolking byvoorbeeld in die informele sektor ’n bestaan. Die navorsingspan wou dus weet of die lae getal mense in die Suid-Afrikaanse informele ekonomie ’n aanduiding is van ’n omgewing wat nie baie bemagtigend is nie.

Die afvalekonomie
Die navorsingspan het die hooftema uiteengesit om die “erkenning” van vullissmouse te fasiliteer ten einde hulle funksionering in die informele ekonomie te verbeter. Die literatuur het getoon dat die meeste vullissmouse die werk doen om te oorleef, en dat daar ’n strukturele gaping tussen die formele en informele afvalekonomie is. Om dit te verander, moet vullissmouse op nasionale, provinsiale en plaaslike beleidsvlak erkenning ontvang.   
Hier is ’n paar belangrike bevindings uit die studie.
 

  • Die meeste bestaande studies oor die smous van vullis is op klein skaal en kwantitatief, en ’n nasionale studie is dus nodig om ’n breër beeld van die vullissmouse en hulle sosio-ekonomiese omstandighede te verskaf – die navorsers het hierdie pad reeds gestap.
  • Kwalitatiewe studies sal die stemme van vullissmouse kan registreer, insluitend hoe hulle hulle omstandighede, hulle welstand, hulle toekoms en die erkenning wat hulle wil hê, waarneem.
  • Identifikasie en evaluering van huidige projekte en programme is nodig om bestepraktyk-modelle te bepaal wat die nasionale, provinsiale en plaaslike regering en NRO’s kan rig.
  • Dit kan ook nodig wees om studies te doen oor die hoeveelheid afval wat vullissmouse op straat en op opvulterreine herwin. Dit sal hopelik die samelewing se waardering vir vullissmouse verhoog.
  • Studies is nodig om die moontlike rol te bepaal wat vullissmouse in die breër afvalbestuurstelsel kan speel.


Ander vrae wat antwoorde verg, is wie verantwoordelikheid moet aanvaar vir interaksie met die vullissmouse en die ondersoek van hulle bedryfsbehoeftes; wie met hulle moet saamwerk en hoe, en wie die dienste moet verskaf wat in die literatuur voorgestel word.

Vullissmouse is hier om te bly
Vullissmouse is ’n permanente kenmerk van die Suid-Afrikaanse informele ekonomie. Hulle kan as ’n deel van ’n probleem of as die oplossing beskou word. Die keuse van die eerste opsie sal teenproduktief wees en kan ’n beduidende verlore geleentheid verteenwoordig. Die tweede opsie is die meer omsigtige een. Dit verg meer omvattende navorsing oor die rol van informele afvalbestuur in die breër afvalbestuurstelsel. Die bevindings moet gebruik word om beleidsdebatte te lei.

Meer spesifiek, bestaande beplanningsprioriteite moet gewysig word om vullisraping as ’n permanente verskynsel te inkorporeer. Beleide moet gegrond word op feite en syfers, insluitend koste-ontleding, en moet die stemme van die vullissmouse self in aanmerking kan neem. Dit sal verseker dat die beleidmakers ingeligte besluite kan neem oor die ontwikkeling van beleide en strategieë wat voldoende erkenning en waardigheid aan vullissmouse sal gee.

Die studie het ook aanbeveel dat maatskaplike werkers gebruik moet word om die bemagtigingsprosesse tussen die vullissmouse en die formele bestuurspan, terugkoopsentrums, die publiek en ander belanghebbers te fasiliteer.

“Ons moet erken dat vullissmouse daar is en dat hulle een van die ratte is wat ons informele ekonomie laat draai. Deur na hulle te luister en die rol te valideer wat hulle speel, kan ons hulle medeverantwoordelik maak deur hulle met dorpe en stede se afvalbestuur te laat help. Afvalraping is ’n belangrike oorlewingsmeganisme vir die armes en sal dit bly,” het Derick en sy medenavorsers veruidelik.