"Die ware stand van ons nasie"

Belinda Bantham -- Fri, 06/26/2020 - 10:48

"Die ware stand van ons nasie"

“Heavenly vengeance pursues a crime slowly, but nevertheless catches up with it in the end. In matters of debt the penalty is not halting; it pursues the culprit at a gallop.” (Anoniem)

Volgens prof Raymond Parsons, ekonoom by die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sou die Aanvullende Begroting wat deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni, aangebied is, onvermydelik slegte nuus wees, met ’n droewige ekonomiese vooruitsig. Daar is bevestig dat die land sy grootste begrotingstekort tot op hede ervaar, en die grootste BBP-inkrimping sedert die 1930’s.

Prof Parsons sê dat die impak van Covid-19 wêreldwyd en plaaslik en die uitgerekte inperking van die plaaslike ekonomie – saam met Suid-Afrika se bestaande swak ekonomiese toestand en universele rommelstatus – ’n nuwe fiskale plan vir Suid-Afrika noodsaaklik gemaak het in die lig van die ekonomiese omstandighede wat drasties verander het. Die Minister van Finansies het dit tereg as ’n “Herkuleaanse taak” beskryf.

“Ons moet ook onthou dat, terwyl Covid-19 vir die meeste ekonomieë ’n bestaande opbloei onderbreek het, dit vir Suid-Afrika bloot die aanvang van ’n resessie – wat reeds vroeg in 2020 sigbaar was – verhaas het. En terwyl Covid-19 wêreldwyd ’n fiskale skuldontploffing laat plaasvind, verskil lande se vermoë om dit te hanteer en om die gevolge daarvan suksesvol te bestuur,” sê prof Parsons.

Die toestand van ’n land se staatskuld weerspieël die strengheid of die inkonsekwentheid van sy vorige beleide, en gee vorm aan die ruimte waarin elke ekonomie in daaropvolgende fiskale en monetêre beleide kan beweeg.

Dit is duidelik uit die jongste begrotingsverklaring dat, benewens Covid-19, die Suid-Afrika van vandag besig is om duur vir gister se foute te betaal.

Minister Mboweni het weer eens gewaarsku dat ’n uiteindelike soewereine skuldkrisis nou die swaard van Damokles is wat in die lig van die onlangse kumulatiewe ekonomiese en fiskale tendense in Suid-Afrika oor die ekonomie hang. ’n Hersiene fiskale raamwerk moes opgestel word om ’n erg verslegtende ekonomiese en fiskale situasie te hanteer.

Prof Parsons sê dat die hersiene Begroting nie ’n silwer koeël of toorstokkie is wat dinge oornag sal regmaak nie. Dit is duidelik uit die begrotingsboodskap dat daar geen kitsoplossing is nie. Dit is in elk geval net ’n aanvullende dokument. Die uitdaging wat die hersiene Begroting moes hanteer, was om ’n versigtige pad te stap tussen uitgebreide ekonomiese ondersteuning nou en fiskale volhoubaarheid later. Suid-Afrika moet uit sy laegroei-valstrik breek sonder om in ’n skuldstrik te verval. Herstel en hervorming moet nou die algemene wagwoorde in die ekonomiese beleid wees.

“Wat egter saak maak, is nie die absolute vlak van die aangaan van lenings nie, maar eerder hoe goed die geld bestee word, en die koste daarvan om die skuld te diens. Die Begrotingsverklaring beklemtoon dat Suid-Afrika nietemin bykomende buitelandse lenings sal moet verkry, hopelik so goedkoop as moontlik, insluitende van die Internasionale Monetêre Fonds,” sê prof Parsons. In die geheel gesien, leun die hersiene Begroting en die finansiering daarvan te veel in die rigting van staatsverbruiksbesteding eerder as beleggingsuitsette deur die staat, en laat die dooie skuld dus deur stygende skuldkoste net groter word.

Die welkome klem op infrastruktuurbesteding as belangrike katalisator van groei help egter om die balans in die regte rigting te stuur. Dit bly belangrik om ’n ekonomiese omgewing te skep wat beleggingsverpligtinge in werklikhede omskep. Solank as wat die bedreiging van verdere beurtkrag en ’n waargenome gebrek aan energiesekerheid bestaan, sal privaat beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomiese prestasie beperk wees. Dit is ook nodig om eerder ’n beperkte aantal lewensvatbare sleutel-infrastruktuurprojekte te prioritiseer en nie die net te wyd te span nie, sodat hulle ekonomiese impak gemaksimaliseer kan word.

Om die regte balans in staatsbesteding te vind, is nog ’n rede waarom die streng hersamestelling en herprioritisering van staatsuitsette nou noodsaaklik geword het om by die nuwe ekonomiese realiteite in te pas. Daar was geen definitiewe verklaring oor die openbare sektor se salarisrekening, wat steeds aan onderhandeling onderworpe is nie, en geen formele verwysing na die toekomstige status van die SAL nie. Suid-Afrika is nou in ’n fiskale posisie waarin geen besteding as onaantasbaar beskou moet word nie. Alle programme moet met betrekking tot hulle uitgawes en hulle doeltreffendheid ontleed word. Die nulgebaseerde begrotingsbenadering is dus ’n welkome innovering en hou groot belofte in.

Noodmaatreëls kan help om skuldophoping te beperk, maar hulle bied nie ’n permanente oplossing vir chroniese fiskale agteruitgang nie. Sistemiese veranderings in fiskale bestuur het noodsaaklik geword. En wanneer ’n groot toename in skuld uit strukturele tekorte spruit, het strukturele hervormings noodsaaklik geword.

 

Hoewel die staatskuldontploffing in die Aanvullende Begroting beleidmakers noodgedwonge met moeilike besluite laat, kan hierdie besluite nie onbepaald vermy word, of selfs in sommige gevalle uitgestel word nie. Indien die nuwe tekortteikens geloofwaardig moet wees, moet ’n paar netelige sake steeds aangepak word.

 

“Die aanbieding van die Aanvullende Begroting het tereg die behoefte aan dringendheid beklemtoon. Die dringende vraag is dus nie vir hoe lank nie, maar met hoeveel, die begroting sal voortgaan om erg ongebalanseerd te bly indien doeltreffende regstellende optrede nie binnekort sigbaar geïmplementeer word nie. Om beleggersvertroue te herbou, moet die fiskale bestuur in Suid-Afrika die oorkoepelende indruk skep dat die land se staatsfinansies in die toekoms inderdaad ferm onder beheer gebring gaan word. Fiskale geloofwaardigheid bly van die uiterste belang,” sê prof Parsons.

 

Die uitkoms van fiskale besluite in die moderne globale wêreld hang nie net van die feite van die situasie af nie, maar van markpersepsies – korrek of nie – oor daardie feite. Markreaksie is belangrik vir die bou van vertroue. Hy voeg by dat daar ook ervaar moet word dat Suid-Afrika in die jare wat voorlê aan die herwinning van positiewe beleggingstatus gaan werk. Bewyse van elders toon dat dit gedoen kan word, selfs as die pad terug na ’n goeie beleggingsgraad lank is. Wat in elk geval gedoen moet word, val breedweg saam met ander pro-groei-noodsaaklikhede.

Die lig wat deurlopend deur die jongste fiskale duisternis skyn, is die oorweldigende behoefte om deur strukturele hervormings ’n volhoubare hupstoot aan Suid-Afrika se dalende groeikoers te gee. Strukturele hervormingsverbintenisse moet help verseker dat waar ekonomiese herstel van die resessie ophou, volhoubare groei sal oorneem. Dit is selfs nog noodsaakliker met dié dat die meeste van die Covid-19-verligtingsmaatreëls in Oktober verval.

Soos die Minister van Finansies gesê het, daar is steeds toekomstige beleidstasies in die beleidsbesluitnemingsproses wat later doeltreffend benut moet word om vertroue te bou namate die ekonomiese situasie verder ontwikkel. Die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring (MTBPS) in Oktober sal byvoorbeeld ook gemobiliseer word om ’n meer wesenlike platform te skep om die waarskynlike tendense in Suid-Afrika se staatsfinansies in die toekoms te bestuur en die wyse waarop dit die beste gestabiliseer kan word.

Konsensus is nou nodig om die staatskuldontploffing met verloop van tyd te ontlont en om te begin om die situasie op ’n ordelike en geleidelike wyse te herstel. Dit is ’n gesamentlike kabinetsverantwoordelikheid en kan nie op die skouers van die Nasionale Tesourie alleen rus nie. Doeltreffende implementering en samewerking bly die oorkoepelende uitdaging vir nuwe planne, beleide en projekte. Geen mislukking moet aanvaar word nie, veral met ekstra fondse wat aan verskillende vlakke van die regering beskikbaar gestel is om die Covid-19-krisis te hanteer.

Prof Parsons sê dat die Aanvullende Begroting-verklaring aandui dat die regering steeds tot strukturele hervorming in die algemeen en tot die Tesourie se 2019-groeidokument in die besonder verbind is. Die nood- hersiene Begroting het dus weer bevestig dat alle paaie uiteindelik deur meer werk-ryke groei loop. Groei en werkskepping beweeg in tandem. Inklusiewe groei is die oorkoepelende doelwit. Die strewe na groei moet dus die mantra wees wat toekomstige beleidsbesluite vir Suid-Afrika deurtrek om ’n groter, sterker en beter ekonomie te bou.

Vir meer inligting kontak prof Raymond Parsons by 083 225 6642.