Die stryd teen MIV/vigs is nog nie verby nie

Marelize Santana -- Mon, 07/29/2019 - 11:26

Die stryd teen MIV/vigs is nog nie verby nie

Met ongeveer agt miljoen Suid-Afrikaners wat met MIV/vigs leef en 230 000 nuwe infeksies jaarliks, is dit geen wonder dat wetenskaplikes, organisasies en die regering dit ’n topprioriteit gemaak het nie.

Prof Refilwe Phaswana-Mafuya, adjunkvisekanselier vir navorsing en innovasie by die Noordwes-Universiteit (NWU), was onlangs die voorsitter by die negende SA Vigs-konferensie, die twee grootste MIV-konferensie ter wêreld.

 “Die geleentheid om hierdie konferensie te lei, was ’n geweldige voorreg, ’n fenomenale ervaring, ’n merkwaardige reis gevul met wonderlike lesse wat geleer is, groot ondersteuning en betrokkenheid wat ek vir altyd sal koester,” sê prof Phaswana-Mafuya.

 “Dit was beslis ’n gesamentlike poging, aangesien ek nie op my eie ’n konferensie van hierdie omvang sou kon reël nie. Ek wil die Dira Singwe-raad bedank dat hulle geglo het ek kan dit doen, asook die konferensie se organiseringskomitee vir al hulle harde werk.”

Meer as 3 000 mense van ongeveer 40 lande het die gebeurtenis bygewoon, wat van 11 tot 14 Junie in Durban gehou is.

Die konferensie het verskillende rolspelers gelok, insluitende nieregeringsorganisasies, sektorleiers, lede van die uitvoerende raad, burgemeesters, UNIAIDS, aktiviste en wetenskaplikes van regoor die wêreld.

Die adjunkpresident, David Mabuza, die Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, en die burgemeester van die eThekwini Munisipaliteit, Zandile Gumede, was ook teenwoordig.

 “Hierdie konferensie het op ’n paradoksale tydstip plaasgevind. Dit lyk of die reaksie op die epidemie stadig swakker word, politieke wil neem af, dit wil voorkom of die gevoel van dringendheid weg is, en befondsing is aan die afneem,” sê prof Phaswana-Mafuya.

 “Die konferensie het op die regte tyd plaasgevind, veral aangesien daar persepsies is dat die MIV/vigs-epidemie onder beheer is of amper nie meer bestaan nie, ten spyte van die onaanvaarbaar hoë infeksietelling in Suid-Afrika,” voeg sy by.

Sy sê dat die konferensie gehelp het om die ware feite te gee en almal se reaksies te verfris.

Teen die einde van konferensie het adjunkpresident Mabuza die eThekwini-verklaring ontvang – dit is die samevatting van die besluite wat by die 2019-konferensie geneem is.

Volgens prof Phaswana-Mafuya sal reëlings vir opvolgvergaderings getref word om die implementering van die verklaring vir ’n doeltreffende reaksie te bespreek.

 Prof Refilwe Phaswana-Mafuya.

#NWUVroue