Die Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding vier aanprysing ná eksterne evaluering

Belinda Bantham -- Fri, 02/01/2019 - 11:14

Die Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding vier aanprysing ná eksterne evaluering

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens sy status as ’n toonaangewende en innoverende universiteit bevestig deurdat twee meestersgraadprogramme in die Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding (CEN) internasionale aanprysing ontvang het.


Die gestruktureerde meestersgrade in voeding en dieetkunde het die verwagtings van die evalueringspaneel oortref en in die proses slegs die tweede meestersgraadprogram aan die NWU geword om aanprysing te ontvang.

Oor die algemeen is sulke hoë vermeldings voorheen slegs aan ander programme by die NWU oor ’n tydperk van 10 jaar toegeken. Aspekte wat tydens die evaluering na vore gekom het, sluit in goeie bestuur, verdienstelikheid ten opsigte van die balans tussen onderrig-leer en navorsing, asook die sentrum se oorkoepelende posisie binne die akademie en die bedryf.

’n Internasionale paneel kundiges met persone soos prof Edith Feskins (Wageningen Universiteit), dr Matilda Asante (Universiteit of Ghana), prof Louise van den Berg (Universiteit van die Vrystaat), prof Frederick Veldsman (Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit), me Duduzile Mthuli (Unilever) en mnr Gilbert Tshitaudzi (Departement van Gesondheid) het die oorsig hanteer.

Volgens me Antoinette Vermeulen, ʼn bestuurder in die Kwaliteitsbevorderingskantoor, het die paneel die volgende kommentaar in hulle terugvoer aan die sentrum gelewer: Dit is nie maklik om in onderrig-leer en navorsing uit te blink nie, maar akademiese personeel in die program streef daarna om dit te doen. Die paneel het die sterk leierskap van die uitvoerende dekaan (prof Awie Kotzé), die adjunkdekaan (prof Jeanetta du Plessis), die CEN-direkteur (prof Marius Smuts) en die programkoördineerder (prof Marlien Pieters) geloof. Die entoesiasme en toewyding van almal wat by die sentrum betrokke is, is ook vermeld.

In sy reaksie op die eervolle vermelding het prof Marius Smuts, CEN-direkteur, gesê dat hierdie prestasie nie moontlik sou wees sonder die harde werk en toewyding van die CEN se personeellede oor baie jare, asook die uitstekende leierskap, ondersteuning en infrastruktuur wat die Fakulteit Gesondheidswetenskappe verskaf nie.

* Die CEN is een van vier sentrums van uitnemendheid by die NWU en enig in sy soort in Afrika. Die sentrum se doelwit is om deur dinamiese navorsing wat ’n impak maak die mens se lewensgehalte te verbeter deur voeding en voedsel regdeur sy lewensiklus te ondersoek.