Die NWU is die regte plek vir akademiese uitnemendheid

Belinda Bantham -- Tue, 11/20/2018 - 12:46

Die NWU is die regte plek vir akademiese uitnemendheid

As jy as ’n kundige wil uitstyg op die gebied van elektromeganiese en mineraalingenieurswese in die mynbou-, chemiese, olie- en gasbedryf, of in ’n loopbaan op die gebied van geografie of wiskunde, gasvryheid, opvoedkunde en toerisme, is die Noordwes-Universiteit (NWU) die regte plek om te wees.  

Die onlangse bevindings van die Shanghai Ranking Consultancy se wêreldwye Academic Ranking of World Universities (ARWU) plaas hierdie vakaanbiedings onder die top 500 in die wêreld, wat bewys dat die NWU ’n akademiese instelling is waar uitnemendheid die botoon voer.

ARWU is ’n wêreldwye graderingstelsel wat meer as 1 600 instellings van 83 lande evalueer. Dit is hoekom ’n plasing onder die top 500 ’n noemenswaardige prestasie is, aangesien vakke teen die beste van die bestes gemeet word. Die resultate word jaarliks gepubliseer.

Die NWU blink uit met topvakke

Volgens die jongste publikasie van die ARWU blink die NWU uit in die vakgroeperings mynbou- en mineraalingenieurswese, en in gasvryheid en toerisme. In hierdie vakgroeperings is ons onderskeidelik in die top-100 en top-200 wêreldwyd.

Die universiteit se atmosferiese wetenskappe-vakgroeperings is in die top-300. Ten opsigte van ander vakgroeperings is politiek en opvoedkunde onder die top-400, met wiskunde, sielkunde en omgewingswetenskappe wat die res van die NWU se room-van-die-oes-vakaanbiedings onder die top-500 plasings uitmaak. 

Die NWU is een van slegs twee Suid-Afrikaanse universiteite waar atmosferiese wetenskappe sowel as wiskunde onder die top-500 val. Dit is veral relevant vir studente wat vir ’n BSc-graad met geografie en toegepaste wiskunde as hoofvakke wil studeer, aangesien die plasing van hierdie vakke in die graderings ’n duidelike aanduiding van die gehalte van die vakaanbiedings is.

Die NWU is ook slegs een van twee Suid-Afrikaanse universiteite wat wiskunde (op sy eie) in die top-500 het.

Verskillende kriteria word in ag geneem

Dit is ’n betekenisvolle prestasie om vakke in die top-500-gradering te hê omdat streng kriteria in die graderingstelsel geld. Navorsingsgehalte, die impak van die navorsing in die bedryf en die gemeenskap, en die samewerking tussen instellings word alles tydens die graderingsproses in ag geneem. Universiteite moet op al hierdie gebiede uitblink om ’n goeie gradering te kry.

ARWU word as een van die drie belangrikste universiteitsgraderings naas die QS World University Rankings en Times Higher Education World University Rankings beskou. Shanghai Ranking Consultancy, wat ARWU sedert 2009 publiseer, is ’n onafhanklike organisasie wat op hoër onderwys fokus.

Prof Robert Balfour, die NWU se adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, sê dat die NWU se verbintenis tot uitnemendheid in onderrig en leer in 2018 in verskeie internasionale graderingsresultate erken is.

Die universiteit het vyf uit vyf sterre vir onderrig en leer, die indiensneembaarheid van ons gegradueerdes, en innovering in die Quaquarelli Symonds-gradering vir 2018 gekry.

“Ek is verheug dat die passie, toewyding en verbintenis van ons uitstekende personeel en toegewyde studente op dieselfde wyse in die ARWU-graderings (Shanghai-graderings) erken word. Watter ongelooflike getuigskrif vir ons kollegas en die duidelike pligsgetrouheid van ons studente.  Gehalte is altyd die wenner!”