Die manne wat die NWU se Varsitybeker-spanne geslyp het

Belinda Bantham -- Tue, 05/26/2020 - 12:41

Die manne wat die NWU se Varsitybeker-spanne geslyp het

’n Rugbygemeenskap is soos ’n bende eendersdenkende broers, ’n groep manne (en vroue) wat glo dat daar nie ’n tree teruggestaan moet word om ’n oorwinning in ’n wedstryd te verseker nie. Onder hulle is die peetvaders en die bewaarders van die spel, die administrateurs en die verskillende spesialiste wat in diens geneem word om te verseker dat hierdie doelwit bereik word.

Niemand is egter meer in die kollig as die afrigters nie – hulle weet dat hulle beroep baie soos ’n draaideur werk. Afrigters vereis uitnemendheid, en ondersteuners selfs meer. Hulle werk word deur duisende beoordeel en deur joernaliste aan stukkies getrek, en hulle spanne is openbare besit. Dit is nie ’n benydenswaardige pos nie, en dit word slegs vir die gehardste karakters opsygesit.

Gedurende die hele aantal jaar wat ek in Potchefstroom en aan die Noordwes-Universiteit deurgebring het, het ek die voorreg gehad om in ’n joernalistieke hoedanigheid saam met talle van die afrigters by die NWU sowel as die Luiperds – die twee steunpilare van hierdie spesifieke rugbygemeenskap – te werk. Met geen rugby tans op die horison nie, het ek gedink dat dit dalk pret kan wees om terug te kyk op van die NWU Rugbyinstituut se afrigters wat die span sedert die begin van my loopbaan deur die Varsitybeker gelei het.

Rudi Joubert: Die voormalige Springbok- tegniese adviseur en Bulls Superrugby-mentor was ’n hoëprofielaanstelling, maar sy termyn het nie altyd die vereiste resultate opgelewer nie. Hy kon soms afsydig voorkom, maar wanneer hy jou leer ken het, het die ware Rudi na vore gekom. Twee herinneringe kom na vore: Ek het een oggend ná ’n wedstryd vir Rudi gebel en ek kon hoor dat sy aandag nie by my was nie. Trouens, hy was heeltemal afgetrokke. “Bertie,” het hy geblaas, “Ek sal jou nou terugbel, ek moet eers hierdie *kragwoord* bykom wat agter my geparkeer het sodat ek nie my bakkie kan uitkry nie!” Soos ek sê, die goeie geluk was nie altyd aan sy kant nie, maar ná ’n wedstryd tydens die klubkampioenskap toe daar ’n magdom punte aangeteken is, het hy oor sy glas koue bier geleun, en met ’n wrang glimlag gesê: “Het jy al ooit gesien dat ’n span soveel drieë druk?” Ek was jonk en nog nat agter die ore, maar hy het altyd met my gesels.

Hannes Esterhuizen: Annemie Bester, wat nou as kommunikasiebestuurder by die Leeus se rugbymaatskappy werk, het Hannes die eerste keer vir my as ’n ware heer beskryf, en daar is nie ’n beter evaluering van die man nie.  Hy was veral bekend vir sy werk by die junior spanne voordat hy in die middel van die seisoen by Rudi oorgeneem het. Dit was ’n moeilike taak, maar hy was nie ontmoedig nie en die span het uitstekende rugby gespeel. Hannes was altyd net so bekommerd oor sy spelers se akademiese uitslae as oor hulle prestasie op die veld.

Robert du Preez: Robert, soos die Durbanse media kan getuig oor sy tyd by die Sharks, was die toonbeeld van intensiteit. Om hom ná ’n nederlaag te kontak, was nie ’n benydenswaardige taak nie. Die voormalige Springbok-skrumskakel was ’n harde man. ’n Vroeëre mentor van Robert by die destydse PU vir CHO het een keer aan my vertel dat as daar in Robert se tyd as speler rooi kaarte was, hy nooit op die veld sou gewees het nie.

Jonathan Mokuena: ’n Onverstoorbare karakter wat uiters gewild was onder sy spelers. Jonathan het die NWU tot hulle heel eerste Varsitybeker-titel gelei. Die voormalige Springbok Sewes-ster se stormagtige verhouding met die voormalige Leeus-afrigter John Mitchell was berug. Mitchell, wat al spanne soos die All Blacks en die Western Force afgerig het, was die bron van talle spanopstande, en ek kan julle verseker, daardie twee kon mekaar nie verdra nie.  Jonathan het nie gehuiwer om te sê wat hy van Mitchell dink nie. “Daardie man …,” sou hy sê, voordat hy die sappige besonderhede oorvertel.

André Pretorius: André het die Springbokke in ’n oorwinning ingeskop teen die All Blacks in Rustenburg, en het teen Engeland op Twickenham vier skepskoppe deur die pale gestuur. Jy sou dit nooit raai aan die manier waarop hy met die kinders in die plaaslike gemeenskap werk nie. André is so plat op die aarde soos jy, en het ’n onuitblusbare entoesiasme vir die spel van rugby. André is dalk ver van die juigende skare van Ellis Park, maar hy het ’n tuiste in Potchefstroom gevind. Mag dit vir lank so wees.

Elkeen van hierdie karakters het ’n onuitwisbare merk op ons spel in Noordwes en by die Noordwes-Universiteit gelaat. Om oor hulle onderskeie tye as afrigters by die NWU na te dink, is om terug te kyk in tyd, en daardie mislukkings en suksesse te onthou wat aan ’n gemeenskap vorm gee. In hulle afwesigheid bedank ek hulle.

Deur Bertie Jacobs