Die jongste mediumtermynbegroting-beleidsverklaring bevestig die somber aard van SA se fiskale uitdaging

Belinda Bantham -- Fri, 11/01/2019 - 14:36

Die jongste mediumtermynbegroting-beleidsverklaring bevestig die somber aard van SA se fiskale uitdaging

“In die lig van die binnelandse en wêreldwye teenwinde wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig staar, verskuif die mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBPS) die prentjie na die erkenning van die droewe aard van die fiskale krisis wat in die land aangespreek moet word.”

So sê prof Raymond Parsons, ʼn bekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool.

“Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het openhartig en realisties bevestig dat, tensy daar vordering gemaak word met die verlaging van kostedrywers van die regering en van ondernemings in staatsbesit soos Eskom, Suid-Afrika die gevaar loop om in ’n ‘skuldlokval’ te beland. Die MTBPS het ’n somber fiskale prentjie geteken op grond van die verwagte groeikoers van net 0,5% in 2019, en ’n voorspelling van 1,7% groei in 2020,” sê hy.

Volgens prof Parsons impliseer die MTBPS dat die sleutelmeganismes wat openbare besteding, belastings en tekorte finansier, die punt bereik het waar dit die ekonomiese groeikoers verlaag, en dus ook belastingbetalings laat verminder het.

“Die MTBPS beklemtoon met reg dat effektiwiteit saak maak,  veral in die huidige omstandighede. Hoe meer die regering vermors of op nienoodsaaklike dinge bestee, hoe minder is daar vir noodsaaklike uitgawes beskikbaar, en hoe moeiliker raak dit om in die toekoms verantwoordelike begrotings te laat klop.”

Hy sê, ten spyte van die agenda van remediërende maatreëls wat in die MTBPS voorgestel word, bly dit ʼn saak van bekommernis dat dit nie daarin slaag om die groot toenemende openbare skuld tot 2022/23 te voorkom nie.  

“Solank die regering se besteding nie beter beheer word nie, sal die negatiewe skuldkoers aanhou styg. Die fiskale risiko is steeds op die lang termyn teenwoordig, en minister Mboweni is reg om te vra dat daar nou opgetree word. Daar moet dus oor die algemeen meer momentum agter die rigting wees wat in die jongste MTBPS uitgestippel word – en veral wat gedoen moet word om Eskom te herstruktureer,” voeg hy by.

“Wat Suid-Afrika ook nodig het om die fiskale situasie om te keer, is ’n sterk en volgehoue verbetering in sy dalende groeikoers, wat die oorkoepelende prioriteit in die ekonomiese beleid moet bly.

“Die kritieke toets sal aan die een kant wees om te bepaal in watter mate pro-groeihervormings – wat die ekonomie moet omkeer – dringend geïmplementeer moet word, en aan die ander kant die moeilike besluite wat geneem moet word om oormatige regeringsbesteding aan bande te lê. Dit sal insluit dat die lastige vraag oor die rol van die openbare sektor se loonrekening en sy disproporsionele impak op Suid-Afrika se openbare finansies gouer eerder as later aangepak moet word.”