Die huidige situasie van die DA en die mag van koalisies – ’n kundige se mening

Belinda Bantham -- Thu, 11/07/2019 - 11:24

Die huidige situasie van die DA en die mag van koalisies – ’n kundige se mening

Die Demokratiese Alliansie (DA), Suid-Afrika se hoofopposisieparty, het ’n paar groot veranderings en ontwikkelings oor die afgelope paar weke ondergaan.  

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof André Duvenhage, ’n politieke ontleder, het onlangs ’n diepgaande bespreking met Theo Venter van die NWU se Besigheidskool oor die DA se huidige situasie gehad.

Prof Duvenhage het tydens hulle bespreking ook ’n paar voorspellings oor die DA se toekoms gemaak, en oor wat ander politieke partye moet doen om hulle mag te versterk.

“Kortliks, oor die afgelope paar jaar het die DA se beleid oor swart ekonomiese bemagtiging nie gewerk nie,” het prof Duvenhage gesê.

“Daar was ’n reaksie, wat ’n yslike impak op die party se leierskap gehad het. Dit gaan in politiek oor belange, nie oor vriendskappe nie. In enige sterk politieke party wil ’n leier dikwels hulle eie identiteit in hulle opvolger dupliseer.

“Helen Zille het ’n baie sterk identiteit in die DA gehad, en aan die ander kant het Mmusi Maimane probeer om sy eie identiteit te skep, weg van Zille af. Die probleem was dat Maimane se nuwe rigting nie gelewer het wat van hom verwag is nie. Na my mening was dit die hoofrede waarom Maimane onlangs sy posisie in die DA verlaat het.”

Prof Duvenhage het bygevoeg dat enige politieke party in die toekoms dit moeilik gaan vind om ’n 50%-ondersteuning van kiesers te kry.

“Koalisiepolitiek is ’n waarskynlikheid, en ’n mens kan selfs meer diversiteit in die Suid-Afrikaanse politieke arena verwag.  Wanneer dit reg gedoen word, kan politieke partye hulleself baie goed vir die komende 2021-verkiesings posisioneer.”

Kyk na die volle bespreking: