Demi-Leigh as Mej Heelal gekroon

Belinda Bantham -- Mon, 11/27/2017 - 12:29

Demi-Leigh as Mej Heelal gekroon

NWU-alumna Demi-Leigh Nel-Peters is as die nuwe Mej Heelal gekroon. Dié 22-jarige skoonheid en huidige Mej Suid-Afrika het Sondagaand in Las Vegas deelnemers van meer as 90 lande geklop om die eerste Suid-Afrikaner te word om hierdie gesogte kroon te dra sedert Margaret Gardiner 39 jaar gelede.

Demi-Leigh het ook in Oktober tydens die NWU se jaarlikse Alumni-toekenningseremonie die Ambassadeurstoekenning ontvang vir die uitnemende wyse waarop sy die universiteit en die land internasionaal verteenwoordig.

Demi-Leigh, wat gedurende haar studentejare as 2015 se Mej Varsitybeker gekroon is, is ’n boorling van Sedgefield in die Wes-Kaap, ’n dorpie net meer as 8 000 inwoners. Sy was die eerste hoofmeisie van haar hoërskool en in graad 11 was sy ook die adjunk-junior-burgermeester van George.

Sy het vanjaar haar ‘Unbreakable’-veldtog geloods wat daarop gemik is om vroue van alle ouderdomme te bemagtig met die vaardighede om uitdagende situasies en gebeure te kan hanteer. Sy het ook werkswinkels regoor die land aangebied.

Die NWU is trots om te sien wat sy reeds in haar loopbaan bereik het. Dit is vir seker die begin van nog baie prestasies. Baie geluk en welgedaan!