NWU-wetenskaplikes onder die bestes ter wêreld

Johan Van Zyl -- Thu, 01/26/2017 - 11:47

NWU-wetenskaplikes onder die bestes ter wêreld

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het opnuut sy beste wetenskaplike voet voorgesit by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wetenskap Forum en het sommer ook weggestap met ‘n besondere prestasie.

Die Prekliniese Geneesmiddel Ontwikkelingsplatform aan die Noordwes-Universiteit het die toekenning ontvang vir die beste uitstalling wat onlangs by die Wetenskaplike- en Nywerheidsnavorsingsraad se Internasionale Konvensiesentrum gehou is. Meer as 70 uitstallers het hul unieke bydraes tot wetenskaplike navorsing en innovasie gelewer.

Prof Anne Grobler wat aan die stuur van die Ontwikkelingsplatform staan sê dié forum is 'n internasionale byeenkoms en bied die geleentheid vir dialoog oor die rol van wetenskap, tegnologie en innovasie in die samelewing. “Dit bring belangrike rolspelers in wetenskap, tegnologie en innovasie bymekaar wat onder andere senior regeringsleiers, akademici, wetenskaplikes, nywerhede, die burgerlike samelewing en studente insluit. ‘n Wye verskeidenheid van onderwerpe onder die tema "prikkel gesprekke oor wetenskap" geniet aandag.”

Die forum was ook 'n ideale geleentheid om die nuutste nuus op wetenskaplike navorsing en innovasie te kommunikeer en om internasionale wetenskap, tegnologie en innovasie vennootskappe en samewerking te bevorder.

Naledi Pandor, die Minister van Wetenskap en Tegnologie, het opnuut haar verbintenis tot die forum bevestig en was aktief deel van verskeie besprekings.

Prof Anne Grobler ontvang 'n toekenning van minister Naledi Pandor.