Caster maak dit drie in ’n ry

Marelize Santana -- Wed, 11/29/2017 - 15:05

Caster maak dit drie in ’n ry

Caster Semenya kan maar net nie van ’n podium afbly nie. Sy palm goud in en haal met reëlmaat die hoofopskrifte, en by die onlangse sporttoekenningsgeleentheid van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom was dit weer sulke tyd.

Caster is vir die derde agtereenvolgende keer as Sportvrou van die Jaar benoem, wat haar die onbetwiste goue meisie van die NWU maak. Hierdie 26-jarige vrou van Polokwane het in Augustus haar derde 800 m-wêreldkampioenskap gewen toe sy tydens die IAAF Wêreldkampioenskap in Londen ’n tyd van 1:55.16 gehardloop het. Caster – ’n tweemalige wenner van ’n Olimpiese goue medalje – is nou gelyk met die legendariese 800 m-atleet uit Mosambiek, Maria Mutola, met drie goue medaljes by ’n wêreldkampioenskap.  

Saam met haar as Sportman van die Jaar is die middelafstandatleet Rantso Mokopane, asook die krieketster Wihan Lubbe. Die Junior Sportvrou is die netbaluitblinker Monique Reyneke, terwyl die hamergooier Carel Haasbroek as die Junior Sportman van die Jaar aangewys is.

Die aand het ook gedien as ’n emosionele afskeid vir James Stoffberg, wat vanaf 2005 tot 2017 as direkteur van sport gedien het.

Die Rugby-instituut op die kampus in Potchefstroom het ook hulle jaareindfunksie gevier, en Walt Steenkamp as Speler van die Jaar benoem. Dié 2,02 meter lange Goliat van ’n slot was drie jaar lank ’n staatmaker vir die Varsity-bekerspan, terwyl hy ook die Luiperds se senior span verteenwoordig het. Dié man, wat as “Warrior” bekend staan, is nog maar 22 jaar oud en ’n lang en belowende loopbaan lê waarskynlik nog vir hom voor.

Loftus Morrison, wat die heel meeste Varsity-bekerwedstryde nog ooit vir die NWU gespeel het, is as Voorspeler van die Jaar aangewys en ook as die Spelers se Speler van die Jaar, terwyl Chriswill September die Piet Malan-toekenning vir die Agterspeler van die Jaar ingepalm het. Burger van der Westhuizen is as die Afrigter van die Jaar benoem.
 

Walt Steenkamp van die Rugby-instituut op die NWU se kampus in Potchefstroom is as Speler van die Jaar benoem. Hier wens prof Fika Janse van Rensburg, die adjunk-visekanselier van die kampus, hom geluk.