Broodnodige leierskap om die heel kleinste mensies te help

Belinda Bantham -- Mon, 10/07/2019 - 10:23

Broodnodige leierskap om die heel kleinste mensies te help

’n Paar dekades gelede was dit redelik algemeen dat vroeggebore babas sterf voordat hulle ouers selfs die kans gehad het om hulle vir die eerste keer in hulle arms te hou. Hoe kleiner die baba, hoe kleiner was die kanse dat hulle oorleef.

Gedurende die afgelope paar dekades het die oorlewing van hierdie klein babas egter baie aandag ontvang en hulle oorlewingskoers het as gevolg van vorderings in tegnologie en farmakologiese sorg dramaties toegeneem.

Prof Welma Lubbe, ’n navorser by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Verpleegkunde, het haar professionele lewe aan die oorlewing en optimale ontwikkeling van vroeggebore babas gewy.

Volgens navorsing loop vroeggebore babas onder andere ’n risiko ten opsigte van neuro-ontwikkelingsuitdagings, insluitende leergestremdhede, matige tot ernstige ontwikkelingsagterstande soos kognitiewe en motoriese inkorting en serebrale gestremdheid, aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring, en verhoogde angs en depressie.

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê dat ervaring in ontwikkelde en lae- en middelinkomstelande duidelik toon dat toepaslike sorg vir die baba met ’n lae geboortegewig die sterftesyfer beduidend kan laat afneem,” sê prof Lubbe.

“Toepaslike sorg sluit in voeding, die handhawing van temperatuur, higiëniese naelstring en velsorg, en die vroeë opsporing en behandeling van infeksies en komplikasies, insluitende respiratoriesestressindroom.”

In ooreenstemming met die WGO se aanbevelings vir die versorging van babas met ’n lae geboortegewig het prof Lubbe onlangs ’n landswye navorsingsprojek geloods. Hierdie projek het ten doel om ondersteuningsorg vir neuro-ontwikkeling (NDSC) te bevorder as ’n fundamentele, onderliggende sorgbenadering wat tot verbeterde kort- en langtermynuitkomste vir vroeggebore babas in die openbare sowel as die privaat akutesorgopset in Suid-Afrika kan bydra.

Sy sê dat hierdie tipe sorg nie net oorlewing beïnvloed nie, maar ook tot die lewensgehalte van oorlewendes bydra. Die fokus van haar navorsingsprojek is op die lewensgehalte van die babas wat oorleef, aangesien dit iets is wat dikwels nie genoeg aandag ontvang nie.

“Die effek van ondersteuningsorg vir neuro-ontwikkeling is goed nagevors, maar word nie altyd by alle Suid-Afrikaanse neonatale intensiewesorgeenhede (NICU’s) as ’n omvattende sorgmodel toegepas nie. Hierdie navorsing is op die implementering van ondersteuningsorg vir neuro-ontwikkeling (INDeSC) gemik ten einde vroeggebore babas se ontwikkeling in alle neonatale eenhede in Suid-Afrika te beskerm en te ondersteun,” sê sy.

“Die multiterrein-navorsingsprojek bring verskillende benaderings bymekaar. Dit is ’n implementeringsnavorsingsprojek wat met die leierskapsontwikkeling van gesondheidsorgkundiges van verskillende dissiplines gekombineer word.”

Die eerste fase van die projek word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad befonds en het onlangs afgeskop toe gesondheidsorgkundiges van regoor die land ’n leierskapontwikkelingswerkswinkel in Potchefstroom bygewoon het.  

Die doel was om ’n bewustheid van hierdie sorgmodel in neonatale hospitaalsale in Suid-Afrika te ontwikkel en geselekteerde ondersteuners toe te rus met die vaardighede om die implementering daarvan in hulle geriewe te lei.

Die leierskapsontwikkelingsegment van die projek fokus hoofsaaklik op die volgende aspekte:

  • Die identifisering en opleiding van ’n leierskapsgroep om die implementering in verskillende geriewe te hanteer.
  • Kapasiteitsbou vir leierskap om die persoonlike ontwikkeling van deelnemers en volhoubaarheid van die projek te verseker.
  • Die identifisering van struikelblokke en voordele ten opsigte van leierskapsontwikkeling en die implementering van NDSC in die neonatale gesondheidsektor in Suid-Afrika.
  • Die ontwikkeling van nagraadse navorsingstudente (multiprofessioneel).
  • Die beplanning en daarstel van navorsingsprojekte vir junior navorsers (multiprofessioneel).

Prof Lubbe sê dat gesondheidsorgverskaffers wat in ’n neonatale opset werk, gemotiveer is om die ondersteuningsorgbenadering vir neuro-ontwikkeling te volg, maar aangesien die implementering gefragmenteer en – in sommige gevalle – heeltemal afwesig is, kan die veronderstelling nie gemaak word dat Suid-Afrikaanse NICU’s aan ontwikkelingsorgvereistes voldoen nie.

“Dit is duidelik dat, hoewel gesondheidsorgkundiges dalk ’n mate van blootstelling aan ontwikkelingsorg in hulle opleiding het – óf op voorgraadse óf op nagraadse vlak, óf in ’n kliniese praktyk – die sorgmodel steeds nie in Suid-Afrikaanse neonatale eenhede geïnternaliseer is nie.”

Een van die persone wat die werkswinkel bygewoon het, Carli Dietrich, ’n mediese dokter, sê dat daar ’n groot behoefte is aan gesondheidsorgkundiges wat blootstelling aan hierdie opleiding behoort te kry.

“Dit plaas die fokus terug op die vroeggebore baba. Die werk moet gewoonlik net afgehandel word. Op ’n manier maak hierdie opleiding dit weer ’n persoonlike saak. Ek het ’n paar dinge hier geleer wat ’n mens nie noodwendig tydens jou mediese opleiding leer nie. Hierdie vaardighede sal enige gesondheidsorgkundige toerus om haar werk selfs beter te doen,” sê dr Dietrich.

Dipna Morar, ’n fisioterapeut wat die werkswinkel bygewoon het, stem saam. “Ek het dit altyd moeilik gevind om in die praktyk behoorlike ondersteunende neuro-ontwikkelingsorg te verleen. Met prof Lubbe se opleiding en ondersteuning, voel ek nou bemagtig om meer te doen om dit met ’n baie groter kans op sukses te implementeer. Hierdie opleiding het vir my ’n nuwe passie vir my vakgebied gebring en het die gevoel na vore gebring dat daar ’n behoefte is dat jou pasiënte moet floreer.”

Volgens die Verenigde Nasies se Kinderfonds het 14,6% van alle babas wat in Suid-Afrika gebore word ’n lae geboortegewig, of weeg minder as 1 500 gram by geboorte. Talle van hierdie babas oorleef, maar hulle ontwikkelingsuitkomste verbeter nie noodwendig in ooreenstemming met verhoogde oorlewingskoerse nie.

Die swak gehalte van ontwikkelingsuitkomste het ’n direkte impak op die langtermynontwikkeling en -funksionaliteit van individue tydens die baba- en kinderjare, asook in volwassenheid. Ontwikkeling en funksionaliteit tydens hierdie lewensfases het op hulle beurt weer ’n direkte impak op die maatskaplike en ekonomiese strukture van ’n land, waar swak funksionaliteit ’n sosio-ekonomiese las op sorggewers en die gesondheidsorgstelsel meebring.

Prof Johann Jerling, direkteur van die voedingsleierskapsprogram vir Afrika (African Nutrition Leadership Programme) en medewerker aan hierdie projek, sê dat die inisiatief nog ’n mylpaal op die groeipad van hulle navorsing is om die lewens van diegene wat van ander afhanklik is, te verbeter.

“Die eerste intensiewe opleidingsprogram vir leierskapsontwikkeling sal opgevolg word met maandelikse aktiwiteite om nege hospitale te ondersteun om die program as deel van hulle standaardsorg vir vroeggebore babas te implementeer. Die projek sal jare lank loop en dit is wonderlik om met so ’n entoesiastiese, multisektorspan verpleegkundiges, fisioterapeute, dokters en hospitaaladministrateurs te werk om uitkomste in hospitale te verbeter,” sê hy.

Die volgende segmente van die projek sal spoedig aan die gang kom en sal weer eens gesondheidsorgkundiges uit alle dissiplines en van regoor die land betrek.

“Hierdie projek sal tot die broodnodige verandering in die sorg en neurologiese ontwikkeling van ons vroeggebore babas bydra. Ons glo vir Frederick Douglass, wat gesê het dat dit makliker is om sterk kinders te bou as om stukkende mense heel te maak, en ons stem volkome met hom saam,” sluit prof Lubbe af.

 

Prof Welma Lubbe demonstreer hoe ʼn vroeggebore baba vasgehou moet word tydens die onlangse leierskapontwikkelingswerkswinkel in Potchefstroom.