Brexit-ooreenkoms is ʼn groot stap om wydverspreide ontwrigting te vermy

Belinda Bantham -- Fri, 10/18/2019 - 08:42

Brexit-ooreenkoms is ʼn groot stap om wydverspreide ontwrigting te vermy

“Die feit dat die Verenigde Koninkryk (VK) en die Europese Unie (EU) ná ingewikkelde onderhandelings ’n ooreenkoms oor Brexit bereik het, sal oor die algemeen verwelkom word in die lig van die wyer implikasies wat ’n ‘harde Brexit’ op sleutelkomponente van die wêreldhandelstelsel sou hê.”

So sê prof Raymond Parsons, ʼn welbekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool.  

“Hoewel Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse Doeane-unie onlangs ’n ooreenkoms met die VK onderteken het om, ongeag die Brexit-uitkoms op 31 Oktober, kontinuïteit in die tariefstelsel te verseker, sal groot verskuiwings in tariefooreenkomste noodwendig onbedoelde gevolge in ’n hoogs ekonomies-geïntegreerde wêreld veroorsaak,” voeg hy by.

Prof Parsons sê, vir die Brexit-ooreenkoms om vasgelê te word, moet dit steeds momentum ontwikkel en verdere politieke ondersteuning in die VK sowel as in Noord-Ierland geniet.

“Die volgende stap vir die VK se parlement is om op 19 Oktober te besluit of hulle die ooreenkoms gaan ondersteun of nie. Daar bly nog baie kwessies oor wat op verskillende politieke vlakke in die VK hanteer moet word om die jongste Brexit-uitkoms onomkeerbaar te maak.”

Hy voeg by dat die opkoms van ’n VK-EU-Brexit-ooreenkoms op hierdie stadium nietemin die risiko verminder het dat die VK op 31 Oktober sonder ’n ooreenkoms uit die EU sal “wegbreek”, wat hoë ekonomiese koste tot gevolg sou gehad het.  

“Daar sou ook onmiddellik ernstige ontwrigtende logistieke gevolge gewees het vir alle lande wat met die VK sake doen, insluitende Suid-Afrika. ’n Gladde en ordelike Brexit bly die eerste prys vir beide die VK en die EU ten opsigte van elkeen se ekonomiese toekoms en hulle handelsbetrekkinge met derdewêreldlande.”