Boek oor paaie tot suksesvolle onderrig bekendgestel

Belinda Bantham -- Wed, 11/22/2017 - 08:00

Boek oor paaie tot suksesvolle onderrig bekendgestel

Die boek Pathways to successful schooling – onder redaksie van prof Elda de Waal, ʼn professor in onderwysreg aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Edu-HRight-navorsingsentiteit – is onlangs by Konstitusieheuwel in Johannesburg bekendgestel.

Afgetrede regter Albie Sachs van die Konstitusionele Hof was een van die gassprekers tydens die geleentheid.

Dié boek is ʼn feestelike terugblik op skoolopleiding in die jaar wat die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) sy 20ste bestaansjaar vier.

Prof De Waal is besonder passievol oor dié unieke verhaal waarin sy alle eer aan die ouers in die land gee.

Pathways to successful schooling fokus op onderwys sedert 1996 en spreek praktiese alternatiewe aan om netelige kwessies aan te pak. Merkwaardige rolspelers – wat ʼn afgetrede regter, advokaat in die Hoërhof en ʼn internasionale kenner insluit – tel onder die skrywers van die boek.

Afgetrede regter Eberhard Bertelsmann het sy hoofstuk in die boek oor die opstel van die Skolewet geskryf. Prof De Waal sê sy het die grootste respek vir die skitterende insette wat hy en sy spanne in slegs ʼn paar maande in die landelike gebiede gedurende die vroeë negentigs gelewer het.

Prof Trynie Boezart, ʼn advokaat in die Hoërhof wat in kinderhofsake spesialiseer, prof Jan de Groof van Leuven Universiteit in Amsterdam, asook medewerkers van die Departement van Basiese Onderwys, Cedar Kollege en die NWU het ook hoofstukke in die boek geskryf.

Prof De Waal sê sy wil graag ʼn glasie klink op al die medewerkers omdat hulle haar toegelaat het om die boek binne 14 maande die lig te laat sien.

Inligting met vergunning van Netwerk24:

https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/die-rede-agter-wysigings-aan-skolewet-20171114

https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/ouers-moet-kreatief-by-skole-betrokke-raak-sachs-20171114\


Van links is dr Elize Kung (NWU - outeur), mnr Elijah Mahlangu (Departement Basiese Onderrig – outeur), me Thalita Komane-Ushe (vriendin), prof Elda de Waal (redakteur), afgetrede regter Albie Sachs, prof Jan de Groof (spediale gesant UNESCO- outeur) en prof Marius Smit (NWU – outeur).

(Foto: Felix Dlangamandla, Netwerk24)