Bevestigde geval van bakteriële meningitis by NWU Potch

Belinda Bantham -- Tue, 10/22/2019 - 12:46

Bevestigde geval van bakteriële meningitis by NWU Potch

‘n Vierdejaarstudent van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom is Maandag, 21 Oktober 2019 in ’n plaaslike hospitaal opgeneem waarna ‘n diagnose van bakteriële breinvliesontsteking (meningitis) Dinsdagoggend, 22 Oktober 2019 bevestig is.

Die student is nie by ‘n koshuis betrokke nie en dit wil voorkom of dit ‘n geïsoleerde geval is.

Die hospitaal en die universiteit is besig om met alle nabykontakte van die student op te volg. Indien jy onseker is, besoek die Gesondheidsorgsenstrum by Gebou E16 om gratis profilakse te ontvang. Meningitis-entstof is steeds teen ‘n koste by Gebou E16 beskikbaar.

“Ek wil alle studente en personeel aanmoedig om nie paniekerig te raak nie en op die komende eksamens gefokus te bly. Die universiteit neem alle nodige voorsorgmaatreëls om die situasie te hanteer. Ons sal alle studente en personeel spoedig van enige verdere ontwikkeling op hoogte hou,” sê prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Potchefstroomkampusbedrywighede.