Besigheid soos gewoonlik

Belinda Bantham -- Wed, 02/07/2018 - 09:23

Besigheid soos gewoonlik

Dit is terug boeke toe vir die studente van een van dié gesogste grade wat ʼn universiteit kan aanbied. Op Maandag 29 Januarie het die Noordwes-Universiteit se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur sy amptelike opening vir MBA’s se akademiese jaar gehou en dit was ʼn geleentheid wat nie gou vergeet sal word nie.

MBA-studente is kon luister na ʼn inspirerende toespraak deur die gasspreker, dr Imtiaz Sooliman – die stigter, direkteur en voorsitter van Gift of the Givers. Gift of the Givers is die grootse rampverligtingsorganisasie van Afrika-oorsprong op die kontinent. Die organisasie het al meer as R1,8 miljard se bystand aan meer as 40 lande oor die wêreld verleen.

Dr Sooliman het die gehoor vasgenael gehad met die verhaal van Gift of the Givers se ontstaan en stories oor die organisasie se wêreldwye humanitêre bedrywighede.

Volgens die direkteur van die skool, prof Fulu Netswera, is besigheidskole regoor die wêreld spesiaal omdat hulle leierskap op ʼn besondere wyse kweek. Hy het verder gesê besigheidskole en hul graduandi het ʼn verantwoordelikheid om die lewens van behoeftiges beter te maak.

“Ons moet die benarde toestand waarin jongmense in ons townships hulle bevind, verlig. Ons as ʼn nasie het ons morele kompas verloor; ons weet nie waar ons is nie en ons weet nie waarheen ons op pad is nie. Dit moet verander. Ons kan nie ons MBA’s voltooi en dan na Australië en Kanada toe hardloop nie.”

Hierdie sentiment is met applous verwelkom.