Beroemde kundige word weer verkies

Belinda Bantham -- Wed, 08/07/2019 - 10:04

Beroemde kundige word weer verkies

Die navorser aan die Noordwes-Universiteit (NWU) wie se naam sinoniem is met gronddegradasie en verwoestyning het dit weer reggekry.

Prof Klaus Kellner van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en ‑bestuur is weer eens gekies as Suid-Afrika se Wetenskap en Tegnologie-korrespondent (WTK) vir die Verenigde Nasies se konvensie om verwoestyning te bestry (die UNCCD).

Prof Kellner sal op verwoestyning, gronddegradasie en droogte in Suid-Afrika fokus om aan verskeie platforms van die Verenigde Nasies te rapporteer.

Hy gaan hierdie maand die streeksvergadering vir Afrika in Pretoria bywoon, en sal ook gedurende September die land by die Komitee vir Wetenskap en Tegnologie (die CST) tydens die 14de sessie van die Konferensie van Partye (COP 14) van die UNCCD in Indië verteenwoordig.

Die UNCCD-COP word deur 196 lande verteenwoordig – almal wat die UNCCD onderskryf, waaronder 53 lande in Afrika.

Prof Kellner het meer as 16 jaar lank as Suid-Afrika se WTK gedien en was van 2010 tot 2011 die voorsitter van die CST-buro by die UNCCD. Hy is ook vir die volgende vyf jaar as lid van die nasionale koördineringsliggaam van die UNCCD in Suid-Afrika herverkies.

Hy is ook vir sy werk oor verwoestyning, gronddegradering en droogte in Suid-Afrika vereer en op die “Roster of Experts” by die UNCCD geplaas.

 Klaus Kellner.