Bekroonde pianis tree plaaslik op

Belinda Bantham -- Thu, 04/06/2017 - 16:05

Bekroonde pianis tree plaaslik op

Petronel Malan is een van Suid-Afrika se mees geliefde konsertpianiste en spog met Grammy benoemings, The American Prize of Excellence in the Arts, vyf eerste pryse by internasionale klavierkompetisies en Kanna- en KykNET Fiësta-toekennings.

Petronel is in Suid-Afrika gebore en het op vierjarige ouderdom met klavierlesse by haar ma begin en het die lesse voortgesit by Adolph Hallis, Joseph Stanford en Albie van Schalkwyk. Nadat sy al die nasionale klavierkompetisies gewen het, het sy haar voor- en nagraadse studies aan die Universiteit van Texas voltooi onder leiding van onder andere Steven de Groot, Ralph Votapek, Joseph Banowetz en Earl Wild.

Malan is bekend vir kragtige virtuose klavierspel wat gehore in konsertsale regoor die wêreld betower. Sy behartig ʼn voltydse konsert skedule as konsertsolis, solis met orkes en as kamermusiek pianis. Tydens haar optrede by die NWU Skool vir Musiek se Konservatoriumsaal op Dinsdag 18 April, voer sy solowerke uit van Brahms, Mozart, Beethoven en Rachmaninoff.

Kaartjies teen R80/R50 is beskikbaar by die Konservatorium in Thabo Mbeki-weg (tel. 018-299-1692), PUK-Kunste in die Heimatgebou (F9) op die kampus (tel. 018-299-2844), Protea Boekwinkel op die Bult (tel. 018-297-1583), aanlyn by www.artema.co.za of 30 minute voor die konsert by die loket.