Baanbreker- elektroniese regstydskrif in klas van sy eie

Belinda Bantham -- Tue, 05/08/2018 - 08:31

Baanbreker- elektroniese regstydskrif in klas van sy eie

Sedert sy ontstaan in 1998 is die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad (PER) ’n kenmerk van die Fakulteit Regte se deurlopende uitnemendheid. Die PER ontvang elke jaar meer as 100 voorleggings, waarvan meer as 60% gepubliseer word.

“Die tydskrif is my baba en my baba het regtig groot geword. Dit bars uit sy nate,” sê prof Christa Rautenbach, hoofredakteur van die tydskrif.

“Dit was die eerste ooptoegang- elektroniese vaktydskrif en ’n baanbreker in aanlyn eweknie-beoordeelde publikasies,” sê prof Rautenbach “In 1998 het niemand daaraan gedink om akademiese artikels aanlyn te publiseer nie. Die algemene konsensus was dat slegs artikels van minderwaardige gehalte in ’n ooptoegangformaat gepubliseer word.”

Die PER was van die begin af daarop ingestel om hoë redaksiestandaarde te handhaaf en om vir regskundiges materiaal te lewer wat die moeite werd is om te lees. Die bydrae in die PER wat heel waarskynlik die meeste aangehaal is (oor Ubuntu deur regter Yvonne Mokgoro), het in die eerste uitgawe verskyn. Referate (orationes genoem) wat deur prominente vakkundiges en regters gelewer is, word dikwels in die PER gepubliseer, en dubbelblinde eweknie-beoordeelde praktyke word regdeur gebruik, behalwe vir die orationes.

“Vir almal wat by die tydskrif betrokke is, is dit ’n liefdeswerk. Nie een van die redakteurs word vergoed nie; ons hoofdoel is om vakkundige kennis te versprei,” verduidelik prof Rautenbach.

Die tydskrif is sedert 2003 geakkrediteer en sy gewildheid groei steeds. In 2016 is 56 artikels gepubliseer, in 2017 69 en in 2018 reeds 32. Dit spog ook met tussen 1 600 en 1 700 aanhalings, net op Google Scholar. Die tydskrif word ook op meer as 20 databasisse geïndekseer.  

“Ek dink dit is omdat ons so ’n gewilde tydskrif is en internasionaal erken en hoog aangeslaan word, dat ons soveel voorleggings ontvang,” verduidelik Rieëte Venter, wat reeds ’n dekade lank ’n integrale deel van die tydskrif is.

Die PER publiseer bydraes wat relevant is vir ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse regstaat. Dit beteken dat die meeste bydraes met een of ander aspek van konstitusionalisme of regsontwikkeling verband hou. Die feit dat die Suid-Afrikaanse regstaat die fokus is, beperk nie die inhoud van die PER tot die Suid-Afrikaanse regstelsel nie, aangesien ontwikkelingsreg en konstitusionalisme uitstekende temas vir vergelykende werk is.

Die tydskrif verwelkom bydraes oor enige aspek of dissipline rakende die reg uit enige deel van die wêreld.

 

 

Prof Christa Rautenbach is die trotse hoofredakteur van die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad (PER).