AUTHeR skep ’n bewustheid vir diabetes

Belinda Bantham -- Mon, 11/13/2017 - 12:15

AUTHeR skep ’n bewustheid vir diabetes

Daar is tans 199 miljoen vroue in die wêreld wat met diabetes saamleef. Daarom is die Noordwes-Universiteit (NWU) se Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) vasbeslote om mense van hierdie toestand bewus te maak.

Wêreld-diabetesdag word jaarliks op 14 November gehou. Dit internasionale tema vir hierdie jaar is “Vroue en diabetes – ons reg op ’n gesonde toekoms”.

AUTHeR sal op 14 November in samewerking met veelvuldige belanghebbers ’n geleentheid by die Mooirivier Mall in Potchefstroom aanbied. Lede van die publiek sal vanaf 09:00 tot 18:00 net buite die Dischem-apteek gratis toegang tot die toetsing van bloedglukose en bloeddruk hê.

Volgens Karlien Smit, ’n dosent by AUTHeR, is die hoofdoel van hierdie veldtog om ’n bewustheid te skep vir en die publiek in te lig oor diabetes. “Ons wil vroue wat nie die siekte het nie, inlig hoe om voorsorgmaatreëls te tref, en diegene wat dit het, aanmoedig om hulleself te versorg,” sê sy.

AUTHeR se doelwit is ook om inligting te deel oor die belangrikheid van bekostigbare en billike toegang tot noodsaaklike behandeling en tegnologieë vir vroue wat ten opsigte van diabetes in gevaar verkeer.

Elliot P Joslin, die eerste dokter in die Verenigde State wat in diabetes spesialiseer, sê dat ’n bietjie kennis gevaarlik is en dat die diabeet wat die meeste weet, die langste leef. Dit is bepaald wyse woorde.