Amberley, ’n beskermengel met vier pote

Marelize Santana -- Tue, 06/18/2019 - 10:44

Amberley, ’n beskermengel met vier pote

’n Beskermengel word omskryf as ’n engel wat ’n bepaalde persoon teen gevaar of kwaad beskerm, en dit is presies wat die twee jaar oue Labrador, Amberley, vir haar eienaar, Lindi Opperman, is.

Lindi, ’n finalejaar LLB-student op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom, ly aan tipe 1-diabetes. Sy leef al 17 jaar lank saam met hierdie siekte.

Dit is ’n outo-immuunsiekte waarin die selle in ’n mens se pankreas deur ’n virus vernietig word, en as gevolg daarvan vervaardig die pankreas nie insulien nie. Dit kan tot beroerte, nierversaking, bewusteloosheid, ’n toeval, en selfs die dood lei.

’n Hipoglisemie-onbewustheid is ’n algemene en gevaarlike toestand wat ontwikkel by mense wat tipe 1-diabetes het. Die toestand beteken dat ’n persoon nie die simptome ervaar wat die meeste mense ervaar wanneer hulle bloedsuiker te laag raak nie.

As jou bloedsuiker baie laag is, kan jy toevalle ervaar, en wanneer dit té lank laag is, kan jy in ’n koma verval. Daar was al tye dat Lindi bewusteloos geraak het as gevolg daarvan dat haar suikervlakke te laag gedaal het. Een van die oplossings vir hierdie toestand is ’n diabetes-dienshond.

Amberley is ’n spesiaalopgeleide hond wat waarneem wanneer iemand se bloedsuikervlak te laag daal. Sy sal weet wanneer Lindi se bloedsuiker laag is, selfs wanneer sy slaap, en haar dan daarvan in kennis stel deur haar poot op Lindi se been of skouer te plaas.

Lindi is tans in Kaapstad vir ’n opleidingskursus wat haar leer hoe om Amberley te hanteer en vir haar te sorg. Die belangrikste doelwit van hierdie opleidingsessie is ook om ’n verhouding tussen hulle te skep.

 “Dit was ’n baie emosionele ervaring toe ons met die opleiding begin het, aangesien sy my dadelik in kennis gestel het wanneer my bloedsuiker laag is, en selfs my toetsapparaat gaan haal het,” vertel Lindi.

Lindi sê dat die opleidingsproses prettig is en dat sy dit geniet om met Amberley saam te werk en haar te leer ken. Dit maak egter albei van hulle redelik moeg. “Ons gaan dan gewoonlik see toe om ’n bietjie te ontspan en weer energie te kry,” sê Lindi.

Aan die einde van die werkswinkel is daar ’n gradeplegtigheid, en dan sal Amberley amptelik Lindi se metgesel wees. Sy sal oral saam met Lindi gaan, selfs wanneer sy toetse en eksamens skryf.

 “Sy sal by my wees totdat sy te oud is om my te kan help. Dus gaan ons baie lank vriende wees en by mekaar wees,” sê sy.

Die proses is steeds relatief nuut in Suid-Afrika en Amberley sal die enigste sodanige hond in Potchefstroom wees. Al klink alles baie opwindend, is daar ook ’n paar uitdagings. ’n Dienshond is ’n verbintenis aan die kant van die eienaar om die nodige tyd in te ruim om ’n verhouding met die hond op te bou.

’n Hond mag moontlik saam met haar eienaar “werk”, maar so ’n verhouding is baie belangrik. ’n Eienaar moet ook vir die hond sorg deur haar te voed, te bad, en vir haar oefening te gee, asook gereeld na ’n veearts te neem.

Lindie sê dat sy bekommerd is oor hoe mense teenoor Amberley gaan reageer wanneer sy haar oral gaan vergesel, veral in inkopiesentrums. Sy is egter baie bly dat sy ’n kandidaat vir hierdie opleidingsprogram is, omdat sy graag ’n bewustheid wil help skep vir die feit dat sulke dienshonde bestaan en ’n noodsaaklike rol speel om lewens te red.

 “Mense moet egter onthou dat Amberley ’n dienshond is, en hoewel ek weet dat mense my gaan voorkeer en vrae gaan vra, moet hulle nie probeer om haar te vertroetel of met haar te speel nie,” het sy sterk beklemtoon.

Lindi Opperman en haar Labrador Amberley.

Lindi en Amberley tydens een van hulle opleidingsessies.

Twee jaar oue spesialedienshond Amberley.