Akademiese sonskyn vir Roelof Burger

Belinda Bantham -- Tue, 05/15/2018 - 14:33

Akademiese sonskyn vir Roelof Burger

Dr Roelof Burger van die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die toekenning vir hoogstaande diens as weermodifikasie-veldmeteoroloog van die vereniging vir weermodifikasie (Weather Modification Association) ontvang.

Die toekenning ter erkenning van uitstaande diens in die uitvoering van weermodifikasie en ‑navorsing is in die Verenigde State van Amerika aan dr Burger oorhandig.

“Ek wil dr Roelof Burger met die uitmuntende prestasie gelukwens,” sê prof Eno Ebenso, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.” “Dit is ’n welverdiende beloning vir sy uitstekende werk en sy toewyding om daardie gemeenskappe te help waar weermodifikasie die lewens van soveel mense kan verbeter.”

Dr Burger is ’n fisiese geograaf wat op atmosferiese wetenskap fokus. Sy navorsing konsentreer op atmosferiese prosesse en die interaksie daarvan met mense se aktiwiteite. Dit sluit onderwerpe soos lugbesoedeling, klimaatsverandering, erge weer en wolkbestrooiing in. Hy bestudeer die atmosfeer deur middel van verskillende waarnemingsplatforms soos vliegtuie, weerradar- en grondgebaseerde instrumente en sy doelwit is uiteindelik om prosesse met behulp van statistiese en numeriese metodes te modelleer.

Dr Burger speel ook ’n geïntegreerde rol in die Lekwena-weerradar, ’n moderne weerradar wat storms en neerslag in die groter Potchefstroom-gebied bestudeer en kwantifiseer. Die radar is onlangs deur die Minister van Omgewingsake, dr Edna Molewa, bekend gestel.

 

 Dr Roelof Burger van die NWU het die toekenning vir hoogstaande diens as weermodifikasie-veldmeteoroloog van die vereniging vir weermodifikasie ontvang.