Aardverwarming vererger wêreldwye ongelykheid

Marelize Santana -- Mon, 07/22/2019 - 12:05

Aardverwarming vererger wêreldwye ongelykheid

Arm lande raak armer as gevolg van aardverwarming, en meer ekstreme hittegolwe sal in die toekoms die ongelykheidsgaping net groter maak.

Dit is ’n paar van die navorsingsbevindings van Namhla Mkiva, ’n tegniese-ondersteuningspersoneellid in die vakgroep Geografie en Omgewingstudies in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe. Sy het ’n internasionaal gepubliseerde artikel oor klimaatsuiterstes in die komende era van klimaatsverandering geskryf.

“Daar word in die vooruitsig gestel dat, onder die invloed van klimaatsverandering, meer intense hittegolwe in die toekoms ervaar gaan word,” sê Namhla.

“In Suid-Afrika is daar reeds ’n noemenswaardige verwesenliking van hierdie voorspelling – ons sien ’n definitiewe toename in die frekwensie en duur van hittegolwe. Die merkwaardigste duur van ’n hittegolf in vandag se tyd in die Noordwes was die sewe dae lange gebeurtenis in 2015/16 se suidelike somerseisoen, met ’n maksimum temperatuur van 44,6 °C in Taung.”

Waarom Noordwes kwesbaar is
Namhla wys uit dat die posisie van die Noordwes provinsie dit meer geneig maak tot kontinentale klimaatsinvloede omdat dit landomring is.

“Dit is ook in die Suid-Afrikaanse subtrope geleë, waar die weerpatrone grootliks deur hoëdrukgordels gedomineer word, wat semi-dor toestande tot gevolg het,” voeg sy by.

In nog ’n internasionale navorsingsartikel getitel “Aardverwarming het wêreldwye ongelykheid vermeerder” wat onlangs gepubliseer is, verduidelik Namhla hoe massiewe weergebeurtenisse hele gemeenskappe uitwis en die lewe vir almal moeiliker, duurder en gevaarliker maak.

“Dit is die realiteit van ’n wêreld waar koolstofemissies klimaatsverbrokkeling aandryf.”

Namhla se navorsing toon dat die ekonomie van arm lande in die trope 24% groter sou wees as dit nie vir aardverwarming was nie. “Dit is omdat die wêreld 1 °C warmer is as wat dit ’n eeu terug was. Die gevolg is dat gewasse misluk, ekonomiese produktiwiteit verminder en mense word siek of gaan dood as gevolg van die hitte.”

Volgens haar artikel is Suid-Afrika tussen 10% en 12% armer as wat dit sou gewees het sonder die verwarming van die afgelope ses dekades. Nigerië is 29% armer en Indië is 30% armer.

Omgekeerd toon die navorsing dat ryk lande by hierdie verwarming baat gevind het. Deur temperatuur en die ekonomiese groei tussen 1961 en 2010 te bepaal, is daar vasgestel dat reeds ryk lande – meestal met koeler klimate – gedurende ’n ongewone warm jaar groeifases het.

Dit is omdat warmer weer hulle nader laat beweeg aan wat bekend staan as die “empiriese optimum” – hoe nader ’n land se gemiddelde temperatuur aan 13 °C is, hoe meer floreer die ekonomie.

Die ekonomie van die 19 lande met die hoogste koolstofemissies het met ’n gemiddeld van 13% gegroei. Noorweë is byvoorbeeld 34% ryker danksy verhoogde temperature. Suid-Afrika, aan die ander kant, met ’n gemiddelde temperatuur van ongeveer 17 °C, het gesien hoe sy ekonomie krimp.

Die hartseer realiteit is dat aardverwarming wêreldwye ongelykheid net verder aanhelp.

Namhla Mkiva.