89 minute van glorie is goud

Elke gemeenskap het so ‘n sportverslaggewer; iemand wat één word met die hartseer en jolyt van sportlui. Hulle word as’t ware wen en verloor se stem. Ons luister na hulle, want hulle was daar. Elke naweek, of daar nou sonskyn, reën of hael is, is hulle gewapen met notaboek en sonroom.

Hierdie baadjie pas die Potchefstroom Herald se Wouter Pienaar. Sy pen palm die pryse in, nes sy kamera.

Wouter se eerste sportboek, 89 Minute van Glorie, word op 26 September by die Elgro Hotel in Potchefstroom bekendgestel. Hierdie boek vertel die verhaal van die Noordwes-Universiteit (NWU) se 2016-Varsitybeker-rugbytoernooi, en wat ʼn verhaal is dit nie.

Wouter neem sy lesers op ʼn reis wat strek van die van die héél begin tot die bitter, senutergende einde. Dit is ʼn lekker en insiggewende lees met pragkleurfoto’s wat die 78-bladsye tooi en emosie vasvang.

Waarom dan 89 Minute van Glorie? Want, die eindstryd teen Maties in Stellenbosch was nie een vir ondersteuners met swak harte of ore wat maklik tuit nie. Die NWU het vir amper 10 minute ná die tyd verstreke was op Maties se doellyn geboer, maar van deurkomkans of strafdrieë was daar geen sprake nie. Uiteindelik het Marno Redelinghuys die wendrie oorgeduik, en Rhyno Smith met die doelskop geslaag.

In sy boek voer Wouter verskeie onderhoude – met afrigter Jonathan Mokuena, met bestuurslui, die betrokke spelers en selfs skeidsregter Lourens van der Merwe wat die eindstryd geblaas het.

Hierdie boek skep ʼn volledige prentjie van ʼn onvergeetlike reis, en boekrakke van sportliefhebbers sal trots wees om 89 Minute van Glorie te huisves.

Kontak Wouter Pienaar by wouter.Pienaar@media24.com vir meer inligting.

 Wouter Pienaar se eerste sportboek, 89 Minute van Glorie, vertel die verhaal van die Noordwes-Universiteit (NWU) se 2016-Varsitybeker-rugbytoernooi.

Submitted on Wed, 09/18/2019 - 15:07