2020 se staatsrede: Van beloftes tot hoop

Marelize Santana -- Fri, 02/14/2020 - 13:18

2020 se staatsrede: Van beloftes tot hoop

Prof Danie Meyer, direkteur van die TRADE-navorsingsfokusarea van die Noordwes-Universiteit (NWU), en Roan Neethling, ’n doktorale student, bespreek die hooftemas van president Cyril Ramaphosa se vierde staatsrede wat op 13 Februarie 2020 gelewer is.

1. Samewerking en maatskaplike ooreenkomste: Die president het toegegee dat die regering nie ekonomiese groei en ontwikkeling op sy eie kan laat plaasvind nie. Nasionale eenheid en nasiebou word van Suid-Afrikaners gevra. Inklusiewe groei, mededingendheid en ekonomiese transformasie is nodig om ’n bekwame staat te skep en die ekonomie toe te laat om te herstel terwyl daar in groeigebiede en behoorlike uitvoering in die regering gespesialiseer moet word.

2. Eskom en beurtkrag: Beurtkrag het ’n geweldige negatiewe effek op ekonomiese groei in Suid-Afrika gehad, en hierdie situasie sal oor die volgende twee jaar voortduur. Die goeie nuus is dat onafhanklike kragvoorsieners toegelaat gaan word om die mark te betree.

3. Staatskuld en staatsfinansies: Staatskuld styg vinnig as gevolg van ’n gebrek aan voldoende inkomste. Oplossings in hierdie verband sluit die vermindering van staatsbesteding en die verbetering van die Suid-Afrikaanse belastingstelsel in. Die president het die moontlikheid van die stigting van ’n staatsbank en ’n soewereine welvaartfonds aangekondig. Geen besonderhede is verskaf oor waar die befondsing verkry sal word nie. Dit lyk of dit in teenstelling is met die oorkoepelende beleid ten opsigte van die vermindering in die getal SOE’s. Besonderhede van die besnoeiing van besteding sal later in Februarie in die begrotingstoespraak aangedui word. Plaaslike regerings sal ook oor die volgende paar jaar verbeter word.  

4. Ondernemings in staatsbesit (SOE’s): Groot transformasies in SOE’s gaan as gevolg van talle gevalle van korrupsie, wanadministrasie en die wanbestuur van fondse in die nabye toekoms geïmplementeer word. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens gaan herstruktureer word. Korrupsie en staatskaping by SOE’s bly problematies en strukturele verandering by al die SOE’s is nodig.
 
5. Werkloosheid onder die jeug: Volgens die president is werkloosheid onder die jeug ’n krisis in Suid-Afrika en die presidensiële inisiatief om jongmense in diens te neem (Presidential Youth Employment Initiative) sal dus geïmplementeer word. Dit sal aktiewe ondersteuning aan jongmense verleen om geskikte werksgeleenthede te kry terwyl hulle toepaslike vaardighede opdoen.

6. Sektoralefokus-benadering: Die regering se beleidsondersteuning sal op sektore soos landbou (pluimvee, suiker), toerisme en vervaardiging (motorbedryf, staal en tekstiel) fokus. Die landbousektor sal voorkeur ontvang en geleenthede gaan binne die volgende jaar uitgebrei word, terwyl die fokus op aspekte van grondhervorming en die herverdeling van grond geplaas word. ’n Verdere 700 000 hektaar staatsgrond gaan vir landboudoeleindes benut word. Beleidsonsekerheid bestaan egter in talle van die ekonomiese sektore.

7. Afrika-handelsooreenkoms: Kontinentale handel geniet prioriteit, met ’n vryhandelsooreenkoms wat tans gefinaliseer word.  

“Ons is oor die algemeen tevrede met die inhoud van die toespraak, maar sou graag meer oor die beleidsrigting vir die ekonomie en spesifieke sleutelsektore, die planne om die naderende afgradering van die land se risikogradering te voorkom, die resultate van staatskapingskommissies en die pad vorentoe, en laastens de verkleining van die regering wou hoor,” sê prof Meyer.

Hy sê dat dit lyk of die regering nog steeds ekonomiese herstel beplan, terwyl die wêreldgemeenskap implementering wil sien. “Die besonderhede van die SONA-voorstelle sal in die komende begrotingstoespraak getoets word, met die staatsinkomste wat met tekorte van meer as R50 miljard onder groot druk verkeer.”

Vir meer inligting, kontak prof Danie Meyer by 018 285 2656 of danie.meyer@nwu.ac.za.   

 


Prof Danie Meyer.